Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld, Die Burger en Volksblad sê
Foto ter illustrasie. Foto: Mlungisi Louw

Die waarskuwing deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) dat ernstige kommer oor landsveiligheid moet heers weens herhaalde begrotingsbesnoeiings, verdien op verskillende vlakke dringend aandag.

Dié probleem kom immers nou al baie jare aan. Ses jaar gelede is byvoorbeeld in ’n verslag gewaarsku dat die weermag so agteruitgegaan het dat dit selfs met onmiddellike ingryping destyds tot tien jaar sou duur om dit weer tot op die vlak van ’n “beperkte” verdedigingsvermoë te kry.

Sedertdien is die begroting weer herhaaldelik gesny, en moes ons ook hoor dat die peperduur wapentuig wat in die wapenskandaal aangeskaf is, grootliks in onbruik staan. ’n Mens ys om te dink wat die stand van sake nou is.

Die saak moet vanuit twee hoeke bekyk word. Enersyds het die weermag ’n grondwetlike mandaat wat voldoende finansiering verg om dit uit te voer. Jy kan nie opdragte uitdeel en dan te min geld vir die uitvoering daarvan gee nie.

’n Dieperliggende probleem is ook dat te veel generaals en admiraals op grond van hul politieke verbintenisse aangestel is

Meer geld alleen is wel nie die oplossing nie, want die probleem strek veel wyer en is ook in die departement se wanbestuur van bestaande hulpbronne oor baie jare heen gesetel.

Jaar ná jaar is die bestuur van die weermag deur die parlementêre portefeuljekomitee byvoorbeeld die deur gewys omdat hy nie bevredigend kon verduidelik waarom die departement ’n negatiewe ouditmening ontvang nie.

Onder dié omstandighede moet streng voorwaardes gestel word vóórdat enige bykomende begrotingstoekenning aan verdediging bewillig word.

’n Dieperliggende probleem is ook dat te veel generaals en admiraals op grond van hul politieke verbintenisse in ’n lompe en opgeblase burokrasie aangestel is. Bekwaamheid kom slegs terloops ter sprake. Trouens, die weermag word in die praktyk as ’n verlengstuk van kaderontplooiing gebruik, pleks van as ’n instrument van die staat.

Laastens is dit nie net ’n teoretiese boekhou­oefening nie, want op grondvlak is die lewe van gewone troepe ter sprake. Suid-Afrika neem dikwels deel aan buitelandse operasies, waarvoor die nodige rugsteun, opleiding en die aanskaf en instandhouding van toerusting nie altyd daar is nie.

Dis gewoon oneties om ons soldate op so ’n manier bloot te stel.

Meer oor:  Weermag  |  Sanw  |  Oorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.