Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld, Die Burger en Volksblad sê
Rassie Erasmus

Dit wil voorkom asof selfs Rassie Erasmus, met al sy vooraf hoog aangeskrewe strategiese afrigtingsplanne, nie die erge wisselvalligheid uit die Springbokke se spel kon kry nie.

Net soos in die tyd van vele van sy voorgangers, is ondersteuners stomgeslaan dat hul nasionale span die een oomblik voortreflik vertoon en dan na die ander uiterste van uiters swak spel beweeg. Dit was ’n groot frustrasie om Saterdag te moes kyk hoe die span die mees basiese foute teen die Argentyne in Mendoza maak. Bleek in die gesig het Erasmus dit self in sy onderhoud net ná die wedstryd as “klubrugby” beskryf.

Dit moet hom ook erg bekommer dat die span by tye met oorgenoeg balbesit net nie deur die Poemas se verdedigingslyn kon breek nie. En om van die foute op verdediging nie eens te praat nie. Dít saam met die algehele gebrek aan taktiese aanvoeling op die veld, moet reeds nagmerries by Erasmus veroorsaak met die komende toetse teen die Wallabies en All Blacks in gedagte.

Die Springbokke se wisselvalligheid op die veld is in ooreenstemming met die patroon van die land se voorste provinsiale rugbyspanne.

Die Springbokke se wisselvalligheid op die veld is in ooreenstemming met die patroon van die land se voorste provinsiale rugbyspanne. Dit is ook reeds vir etlike jare die situasie met Suid-Afrikaanse deelname aan Superrugby.

Hoewel Erasmus se kort rukkie in die afrigting­stoel reeds oomblikke opgelewer het wat aan die grootse gloriedae herinner, kort die nasionale span steeds groter bestendigheid op die veld. Dit moet hy vestig terwyl beroepspelers en -afrigters kort-kort van unie of klub verander en met beperkinge op die gebruiksreg van topspelers. Boonop moet hy die nasionale span regruk op ’n fondament wat duidelik wankelrig is as na die totale rugbystruktuur in die land gekyk word. Maar dit is die genadelose rol wat hy aanvaar het en dit is wat Bok-ondersteuners van hom gaan eis.

Indien na individuele Springbok-spelers gekyk word, is daar geen twyfel nie dat hy van die beste talent tot sy beskikking het. Dit is egter nou nodig dat hulle as ’n hegter eenheid saamgesnoer word en dat beter oordeel en besluitneming op die veld ingedril word.

Suid-Afrikaners sal graag agter Erasmus en sy span wil verenig en behoort dit ook nou in moeilike tye te doen. Alle sterkte aan die Bokke.

Meer oor:  Rassie Erasmus  |  Hoofartikel  |  Rugby  |  Sport  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.