Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld, Die Burger en Volksblad sê
Foto ter illustrasie.

Talle Suid-Afrikaners het waarskynlik ’n kollektiewe sug van verligting geslaak oor die aankondiging deur Jeff Radebe, minister van energie, dat Suid-Afrika van oudpres. Jacob Zuma se kernkragplanne afsien.

En private verskaffers van groenenergie, wat al hoe lank deur die regering aan ’n lyntjie gehou word, het waarskynlik ’n vorm van die riel gedans toe hulle die nuus hoor.

Pres. Cyril Ramaphosa het al in Januarie, voordat hy Suid-Afrika se president geword het, by die Wêreld- Ekonomiese Forum in Davos, Switserland, gesê Suid-Afrika beskik oor ’n oormaat krag en dat daar nie geld vir kernkrag is nie. Daardie woorde het beslag gekry in die konsep- geïntegreerde hulpbronplan (IRP), wat Maandag bekend gestel is.

Kernkrag is nie heeltemal uit die prentjie nie, maar die geringe moontlikheid daarvan sal eers weer ná 2030 bekyk word.

Zuma se kernkragideale, wat hond se gedagte oor ’n nuwe wapenskandaal-soort transaksie en geld onder die tafel vir Nommer Een en sy kabaal laat ontstaan het, sou Suid-Afrika in reuseskuld gedompel en die land waarskynlik aan Rusland verkneg het.

Ingevolge die nuwe energie-bloudruk sal al hoe meer van hernubare bronne gebruik gemaak word en afhanklikheid van steenkool geleidelik verminder word. Dit stem met wêreldtendense ooreen.

Ofskoon die meeste van ons energie steeds van steenkool afkomstig sal wees, gaan al hoe meer op hernubare bronne, soos wind-, son-, gas- en fotovoltaïese energie, staatgemaak word. ’n Plan om meer hernubare krag van onafhanklike produsente te gebruik, is ook afgestof.

Kernkrag is nie heeltemal uit die prentjie nie, maar die geringe moontlikheid daarvan sal eers weer ná 2030 bekyk word. Tans sal kernkrag net 4% tot die kragvoorraad bydra.

Dit lyk asof die regering uiteindelik ’n veel kleiner rol vir Eskom in die vooruitsig stel namate steenkoolkragstasies hul rakleeftyd bereik.

Die plan kan as nog ’n veer in die hoed van die Ramaphosa-regering beskou word. Zuma het hand en tand baklei vir sy kernkragooreenkoms met Rusland, wat ’n integrerende deel van staatskaping sou uitmaak en ons ekonomie dalk finaal sou knak.

Ondanks talle struikelblokke in Ramaphosa se pad beweeg Suid-Afrika tog in talle opsigte in die regte rigting.

Meer oor:  Jeff Radebe  |  Kernkragplanne  |  Hoofartikel  |  Kernkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.