Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld, Die Burger en Volksblad sê
Skuimbolle wat deur rioolafval veroorsaak word, dryf op die Vaalrivier by Parys.

Die besoedeling van die land se riviere – veral die Vaal- en Oranjerivier, die waterbron waarvan 60% van die land se ekonomie afhanklik is – is al jare aan die gang.

Dit het die afgelope 20 jaar rampafmetings aangeneem – so erg dat boere langs dié riviere nie meer hul groente kan besproei nie.

Om nie eens te praat van die bedreiging vir die druiwebedryf in die Noord-Kaap nie. Toerisme het ook gekwyn, en die besoedeling van die Vaalrivier, wat deur die Vredefortkoepel, ’n Wêrelderfenisgebied, loop, is ’n groot kwelling selfs vir Unesco.

Die redes vir die toenemende druk op riviere lê voor die hand: migrasie na die stede (veral in riviere se opvanggebiede), waterinfrastruktuur wat nie dienooreenkomstig opgegradeer is nie, lakse amptenare, korrupsie, tenders aan kaders en die plundering van munisipaliteite. Boonop is riviere onder druk weens klimaatsverandering en mynbou.

Die Nasionale Waterwet word allerweë as ’n uitstekende wet beskou, maar van wetstoepassing is daar min of geen sprake nie.

Die Nasionale Waterwet word allerweë as ’n uitstekende wet beskou, maar van wetstoepassing is daar min of geen sprake nie.

Baie van ons riviere het sedert 1994 in riool- en afvoerslote verander en hul waarde vir menslike gesondheid, kosverskaffing (vis en besproeiing, en hul bydrae tot die ekonomie is grootliks geminag.

Daar is beslis ’n gebrekkige begrip dat riviere noodsaaklik vir ons voortbestaan is.

Riviere wêreldwyd is in ’n treurige toestand. Daarom kon die Wêreldnatuurfonds (WWF) se verslag “Valuing Rivers” nie op ’n meer gepaste tyd as vandeesweek verskyn het nie. Daarin word uitgestippel dat geen beleid geformuleer kan word sonder om riviere en water ’n kernaspek daarvan te maak nie.

Daar word spesifiek na die onlangse droogte in die Wes-Kaap verwys en na damme en riviere wat feitlik opgedroog het. Die WWF doen aan die hand dat planne so gou moontlik beraam moet word om die dorstige indringers in die opvanggebiede van riviere in dié provinsie uit te roei.

Die bloekoms en ander indringers suig jaarliks 1,4 triljoen liter water op. Dit behoort ’n wekroep te wees dat indringers in die opvanggebiede van alle riviere uitgeroei moet word.

Dit is tyd om ons riviere met respek te behandel, ter wille van onsself en ons nageslag. ’n Algehele regrukstrategie is nou nodig.

Meer oor:  Vaalrivier  |  Water  |  Besoedeling  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.