Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld, Die Burger en Volksblad sê
Supra Mahumapelo, premier van Noordwes. Foto: Felix Dlangamandla

Die jongste berigte oor Jacob Zuma se beweerde gekonkel is nog ’n inskrywing op die groeiende lys faktore wat bydra tot onsekerheid oor politieke stabiliteit in die ANC-regering.

Sy klaarblyklik alomteenwoordige skaduwee oor die ANC begin ’n probleem word. Hy woon selfs by tye vergaderings van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) by. Daartoe is hy ingevolge die party se grondwet wel geregtig, maar dit behoort as voormalige ANC-president ’n meer simboliese reg en die uitsondering eerder as die reël te wees.

Sy voortdurende teenwoordigheid is ongetwyfeld ’n poging om sy aanhangers te sterk in hul pogings om politieke beheer oor die organisasie terug te wen. Hulle het reeds welslae behaal deur pres. Cyril Ramaphosa byvoorbeeld in ’n hoek oor grondhervorming te dryf.

Al probeer Magashule nou die bewerings van ’n gekonkel ontken en wegverduidelik, is dit ongesond dat hy steeds gereeld in die opperstaatskaper se geselskap is.

Die jongste berigte oor Zuma – dat hy met van sy termyn se voorste luitenante, Supra Mahumapelo, uitgeskopte voormalige Noordwes-premier, en Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, in ’n Durbanse hotel vergader het – het die ANC (en Suid-Afrika) soos ’n emmer koue water getref. Veral die meegaande bewerings dat daar ’n gekonkel is om Ramaphosa as ANC-leier te ontsetel.

In die daaropvolgende geskarrel het Jackson Mthembu, ANC-hoofsweep, selfs om ’n ondersoek gevra.

Al probeer Magashule nou, soos te verwagte, die bewerings van ’n gekonkel ontken en wegverduidelik, is dit ongesond dat hy steeds gereeld in die opperstaatskaper se geselskap is. Dit alles dra by tot vrae of Ramaphosa werklik vordering maak om sy stempel op die organisasie af te druk, strem politieke vertroue en het uiteindelik ’n nadelige uitwerking op ekonomiese vertroue.

In die meeste politieke partye wêreldwyd is daar gewoonlik verskillende faksies wat verskillende beleidsaksente bevorder, of dit bloot as ’n dekmantel gebruik om mee te ding om die leierskap en beheer.

Wat in hierdie geval anders is, is dat Zuma en sy volgelinge staatskapers is wat die land se skaars bronne vir selfverryking gestroop het. En nou ontsteld is omdat ondersoeke daarna momentum kry.

Hou gouer die ANC-regering en die land finaal ontslae is van hul invloed, hoe beter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.