Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld, Die Burger en Volksblad sê
Adj.pres. David Mabuza Foto: City Press

In wat ’n week van twee verstommende ontkennings was, kan daar nog ’n mate van begrip wees dat Jacob Zuma staatskaping ontken.

Hy, sy seun Duduzane Zuma en vele van hul medestaatskapers is immers nou die teiken van ondersoeke en moontlike vervolging daaroor. Daarom pas dit sy verweer om dit te ontken. Hy het dit ook vroeg reeds in sy presidentsamp deur sy optrede duidelik gemaak dat die ANC se belofte van “ ’n
beter lewe vir almal” hom koud laat. Hy het eerder ’n gewoonte-selfverryker geword.

Maar dat enige land se adjunkpresident die werklikheid van die bestaan van ’n tegniese resessie kan ontken, is verstommend. Adj.pres. David Mabuza se vreemde ekonomiese berekeninge, wat op die teendeel van ’n tegniese resessie dui, bevestig ’n groeiende vermoede. Dit is dat ’n basiese begrip van politieke en ekonomiese werklikhede vele rolspelers in die ANC ontwyk. Hy besef klaarblyklik nie dat sulke uitlatings juis vertroue skaad nie.

Dit is asof daar in die ANC toenemend ’n roeke­lose benadering is dat hy enige politieke of ekonomiese agenda kan bevorder wat die dinamika van sy interne twiste om mag dien. En dat die beleggingsvertroue wat die land kort, hom min kan skeel.

Dit is asof daar in die ANC toenemend ’n roeke­lose benadering is dat hy enige politieke of ekonomiese agenda kan bevorder wat die dinamika van sy interne twiste om mag dien.

Enersyds word hard gewerk deur diegene soos pres. Cyril Ramaphosa en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, om beleggings te lok en dié ondernemings as aandrywers van ekonomiese groei te vestig. Maar andersyds word hul werk intern ondermyn deur die ontkenning van basiese werklikhede.

Vroeër vanjaar het die leierskorps van die Reserwebank ’n sessie met redakteurs en sakejoernaliste gehad, wat deels nieamptelik was.

Dáár het een van die hooggeplaastes gesê “vertroue word net geskep deur duidelike beleidsplanne en bewyse dat daar begin word om dit doeltreffend in werking te stel”.

Dit is die punt wat tans duidelik nie deur Mabuza en kie begryp word nie. Hy is ook heeltemal verkeerd oor sy stelling dat die regering se hantering van beoogde grondonteiening nie vertroue skaad nie.

Voordat die ANC nie oortuigend uit een mond praat oor die uitroei van staatskaping en ’n ekonomiese werklikheidsbegrip toon nie, gaan hy sukkel om momentum vir groei te kry.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Hoofartikel  |  Staatskaping  |  Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.