Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Verlaging van die toelatingsvereistesbaat die jeug niks
Kommentaar: Beeld, Die Burger en Volksblad sê

Die regering se verlaging van die taaltoelatingsvereiste vir ’n BA-graadkursus maak ’n verdere bespotting van die land se reeds bedenklike onderwysstelsel.

Van nou af het ’n skoolverlater ’n matriekpunt van slegs 30% nodig in hul onderrigtaal om hom of haar vir ’n BA-graadkursus in te skryf, is onlangs in die Staatskoerant aangekondig.

Dit is so dat Suid-Afrika se jong mense meer geleenthede en groter toegang tot tersiêre opleiding nodig het. Die voortdurende verlaging van standaarde is egter nié die antwoord vir ’n reeds sukkelende land met 49% werklose jeugdiges (18 tot 34 jaar) nie.

Dit is tyd dat die regering sy fokus, energie en geld sinvol aanwend om die grootliks disfunksionele skoolstelsel reg te ruk, eerder as om standaarde te verlaag en die jeug verder in die steek te laat.

Vir ’n regering wat sê hy wil ’n leiersrol op die vaste-land speel en pas hou in die snel veranderende wêreld en Vierde Nywerheidsrevolusie, is dit gewis ook nie die regte rigting om in te slaan nie.

Die boodskap wat Naledi Pandor, minister van hoër onderwys, en die regering hiermee uitdra, is een van middelmatigheid en nié van uitnemendheid nie.

Onderwyskenners meen ook dat laer vereistes die standaard van onderwys verlaag, en dat die nuwe toelatingsvereiste daartoe sal lei dat nog meer jong mense oordrewe verwagtings van die toekoms koester.

Eerder as om skoolkinders tot taalprestasie aan te moedig, is die regering se boodskap dat jy maar net een punt bo die gradering van ontoereikendheid op skool hoef te presteer om universiteit toe te gaan.

Die regering se onderspeling van taal as ’n onderrigvoertuig is ’n gevaarlike spel. Dit word reeds gesien in die feit dat amper agt uit tien Suid-Afrikaanse kinders in gr. 4 nie die vermoë het om met begrip te lees en te verstaan wat hulle geleer word nie. Dit is ook ’n hoofrede waarom meer as die helfte van Suid-Afrika se kinders wat met gr. 1 begin, voor matriek uitval.

Taal en kommunikasie is dié voertuig vir kennis-oordrag, en taalbedrewenheid bepaal begrip en prestasie. Hoe moet ’n student gevorderde kennis opdoen en presteer met gebrekkige taalvaardighede?

Die regering wek met hierdie ondeurdagte stap vals hoop en verwagtinge in ’n land met reeds te veel ontnugterde en desperate jeugdiges.

’n Leerling met ’n taalpunt van 30% se kans tot universiteitstoelating is skraal. En sou hy of sy wel met die taalagterstand toegelaat word, is die kans op suksesvolle graadstudie ewe skraal. Al wat dit gaan beteken, is meer studente wat op universiteit uitval voordat hulle ’n graad verwerf.

Dit is tyd dat die regering sy fokus, energie en geld sinvol aanwend om die grootliks disfunksionele skoolstelsel reg te ruk, eerder as om standaarde te verlaag en die jeug verder in die steek te laat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.