Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld, Die Burger en Volksblad sê
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Witnessmedia

Die standpunt van die ANC – onlangs ook deur pres. Cyril Ramaphosa verwoord – dat kommissies van ondersoek toegelaat moet word om hul werk af te handel voordat teen beweerde oortreders opgetree word, is onhoudbaar.

Vanselfsprekend kan daar nie met elke bewering hof toe gehardloop word nie. Maar waar daar klinkklare gronde vir vervolgingsondersoeke en gevolglike optrede is moet dit begin gebeur.

Daarom is twee ontwikkelings in dié verband te verwelkom. Die eerste is dat adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie van ondersoek na staatskaping, se vingers klaarblyklik ook begin jeuk. Na aanleiding van getuienis oor beweerde korrupte kontrakte by die departement van korrektiewe dienste het hy gevra dat vasgestel word of dit nog van krag is en die beweerde korrupsie steeds voortduur. Dít dui allesbehalwe op ’n houding van “laat ons eers alles hoor voordat ons besluit”.

Dit lyk of staatskapers in die kabinet en in die ANC se nasionale uitvoerende komitee tot die laaste moontlike oomblik gegun word om te probeer oorleef.

Net so welkom is die benadering van adv. Shamila Batohi, nuwe nasionale direkteur van openbare vervolging. Sy het dit op haar eerste mediakonferensie in die amp duidelik gestel dat vervolgings moet begin. Sy het voorts van die geleentheid gebruik gemaak om ’n ernstige waarskuwing aan staatskapers en korruptes te rig. Ook dié in die nasionale vervolgingsgesag (NVG).

Intussen is daar baie wat Ramaphosa en die ANC reeds kan doen. Die eerste is om Batohi al die moontlike begrotingshulp te gee wat sy nodig het om haar organisasie aan die gang te kry. Sy het reeds laat blyk dat sy moontlik spesiale kundigheid vir van die korrupsie-ondersoeke sal moet invoer.

Verder kan die nodige politieke besluite geneem word oor hooggeplaaste ANC-ampsdraers wie se poste deur die oopvlek van korrupsie in die gedrang gebring word. Dit lyk of staatskapers in die kabinet en in die ANC se nasionale uitvoerende komitee tot die laaste moontlike oomblik gegun word om te probeer oorleef. Sterker optrede in dié verband is dringend nodig.

Maar soos vele kere die afgelope dekade sal Suid-Afrika nie op die ANC kan staatmaak om volledig huis skoon te maak nie. Die NVG, regbank, media en burgerlike samelewing sal almal steeds hul kant moet bring.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Vervolging  |  Hoofartikel  |  Kaping  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.