Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld, Die Burger en Volksblad sê
Pres. Cyril Ramaphosa vroeër vandeesmaand by ’n ANC-saamtrek in Rustenburg. Foto: Rapula Mancai / Daily Sun

Daar kan geen realistiese verwagting wees dat die ANC se sogenaamde integriteitskomitee ’n grondliggende verandering gaan doen aan die party se kandidatelyste nie. Dit lê besaai met al wat ’n Zupta-apparatsjik, meeloper van staatska­ping, uitgewysde en voorstokgekryde is.

Die eerste probleem is dat die “integriteitskomitee” bloot as ’n politieke vensterversiering in die lewe geroep is en dus in sonde ontvang is.

Dit was juis in die aanloop tot 2014 se verkiesing dat die ANC se peilings aan hom begin wys het sy grootskaalse korrupsie en swendelary kos hom stemme. ’n Paar gerespekteerde ANC-ringkoppe is toe bymekaar gejaag om aanbevelings te doen wanneer ernstige bewerings teen ’n ANC-lid gemaak word. Die komitee het geen werklike magte of tande gehad nie en in sy bestaan van ’n halwe dekade het hy bykans niks verrig nie.

Feit is ook dat die ANC oor dekades heen ’n sterk kultuur van nieverantwoordbaarheid en anderpad kyk ontwikkel het.

Dit is dié kultuur wat maak dat skuldiges in die parlementêre reisskandaal in ’n oogwink in ander, hoë poste herontplooi is.

Dit is dié kultuur van anderpad kyk wat dit moontlik maak dat iemand soos Julius Malema kon maak en breek nes hy wil, maar net totdat hy ’n politieke bedreiging geword het.

Dit is dié kultuur wat maak dat iemand soos John Block, eertydse ANC-leier in die Noord-Kaap en LUR vir finansies, nog lank in sy pos kon bly ondanks ’n strafsaak van bedrog, korrupsie en geldwassery teen hom.

Dit is dié kultuur wat maak dat skuldiges in die parlementêre reisskandaal in ’n oogwink in ander, hoë poste herontplooi is.

Natuurlik is dit waar dat mense soos pres. Cyril Ramaphosa en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, voornemens toon om dié kultuur te begin verander en dit moet bepaald nie misgekyk word nie.

Die feit is dat ’n geskiedenis wat oor meer as twee dekades heen opgebou is deur ’n party wat iemand soos Jacob Zuma voorgestoot het as die beste wat hy het, nie oornag uitgewis word nie.

Wat nou aan die afspeel is, is ’n magstryd om die wese en siel van die ANC. Daarom sal Ramaphosa en kie hulle moet staal vir ’n baie lang pad wat nog voorlê. In dié fel stryd wat kom, gaan ’n tandelose integriteitskomitee hulle van min nut wees.

Die gereg sal eerder sy beloop moet neem.

Meer oor:  Komitee  |  Korrupsie  |  Anc  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.