Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld, Die Burger en Volksblad sê
Pres. Omar al-Basjir. Foto: Felix Dlangamandla

Die staatsgreep in Soedan is ’n tipiese voorbeeld van die dilemmas waarvoor Afrika se gebrek aan demokrasie die wêreld plaas.

Pres. Omar al-Basjir was ’n buitengewoon wrede diktator. In sy skrikbewind sedert hy in 1989 in ’n staatsgreep aan die bewind gekom het, het hy nie net die demokrasie in sy land nek omgedraai en alle opposisie bruut onderdruk nie, hy het boonop volksmoord en tallose oorlogsmisdade gepleeg.

Dit is die man wat nie-Arabiere in die provinsie Darfoer genadeloos vervolg, ’n ongekende veldtog van moord en verkragting van stapel laat loop het, en wat luidens ’n onlangse Britse parlementêre ondersoek verantwoordelik was vir die dood van minstens 300 000 mense.

Dis om dié redes dat die Internasionale Strafhof (IS) in Maart 2009 ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik het. Die volkeregtelike verpligting op elke staat was daarna om hom aan te keer en uit te lewer.

Die ANC-regering se beskerming van Basjir het bygedra tot die wegkalwing van SA se morele gesagsposisie rakende internasionale menseregte.

Maar die ANC-regering het in 2015 sy volslae min­agting vir die volkereg gewys deur Basjir te beskerm toe hy ’n spitsberaad van die Afrika-Unie in Suid-Afrika bygewoon het. In 2016 het die regering boonop aangekondig hy wil aan die IS onttrek.

Hoe ook al, ná 16 weke van feller wordende betogings waarin minstens 38 mense dood is, het die Soedanse weermag besluit genoeg is genoeg en Ba­sjir in hegtenis geneem. Die internasionale reaksie was veelseggend mild – oorwegende dat nóg die staatsgreep nóg ’n militêre regime goedgekeur kan word, maar dit was meestal versigtig bewoord, sonder duidelike stappe soos sanksies.

’n Beroep is op die militêre bewind gedoen om so gou moontlik ’n verkiesing te hou en die demokrasie te herstel, iets wat die soldate in elk geval beloof het. Ook die protesteerders teen die Basjir-regime het laat blyk hulle is met niks minder as ’n behoorlike demokrasie tevrede nie.

Dié reaksie lyk na die beste wat in die omstandighede moontlik is. ’n Mens wil byna sê enigiets is beter as die Basjir-bewind, maar ’n militêre diktatuur kan slegs as oorgangsmaatreël geduld word.

Die ANC-regering se beskerming van Basjir het baie bygedra tot die wegkalwing van Suid-Afrika se morele gesagsposisie rakende internasionale menseregte. Die hoop is dat die regering nou die les geleer het dat jy aan jou vriende geken word.

Meer oor:  Omar Al-Basjir  |  Soedan  |  Anc  |  Menseregte  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.