Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld, Die Burger en Volksblad sê
Ace Magashule
Ace Magashule

Moddergooiery, innuendo, opportunisme, leë beloftes, ontkenning en willekeurige stemprojeksies is eie aan die politiek en kenmerk die seisoen van beloftes voor verkiesings.

Dit sluit niksseggende strofes in soos die beleërde Ace Magashule se uitspraak in Philippi: “Moenie die ANC straf oor julle vies is vir sy leiers nie.”

Sy “stemkopery” onder die dekmantel van kos aan armes toe hy R400 aan ’n inwoner gegee het, en die voorgenome DA-klag by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) is deel van die politieke prul. So ook die retoriek oor koalisies, met Cyril Ramaphosa wat as ANC-leier verkondig dit werk nie, en oor of ’n stem vir kleiner partye vermors word, met die DA en VF+ wat uiteenlo-pend predik.

Erg onbehoorlik is die geweld, vandalisme, brandstokery en vreemdelingehaat wat die aanloop na stemdag op 8 Mei begelei. Die knaende betogings in Gauteng, die Vrystaat, die Wes-Kaap en elders word ontketen deur swak dienslewering, maar spreek van die frustrasie van huisloses en ander vergetenes wie se onvervulde verwagtinge en verguising van hul basiese menseregte ná 25 jaar soos ’n sweer dreig om te bars.

Erg onbehoorlik is die geweld, vandalisme, brandstokery en vreemdelingehaat wat die aanloop na stemdag op 8 Mei begelei.

Alexandra, wat neffens die rykmansbuurt Sandton in Johannesburg tussen twee snelweë vasgeknyp lê en sporadies oorkook, vergestalt die plofbare versmelting van historiese ongelykhede, politieke uitbuiting en maatskaplik-geografiese ontwikkelingsrealiteite. Verlede week het Ramaphosa kabinetslede gou aangesê om voor die verkiesing vure in “Alex” te gaan blus. Gister moes Herman Mashaba, DA-burgemeester, vir die behuisingsnood en haglikhede hier gaan pa staan.

Volgens die Instituut vir Sekerheidstudies neem protesoptredes in verkiesingstye toe, maar kan die huidige vlaag betogings die OVK se werk op verkiesingsdag belemmer. Die OVK het ’n risiko-ontleding gedoen oor moontlike gevaarplekke in elke provinsie en tref voorsorg by stemlokale.

Wat blywend nodig is, is dat politici in die jare tussen verkiesings die belange van mense in brandpunte op die hart dra en beloftes nakom.

Slegs só sal die tema met die inhuldiging van die nuwe president op 25 Mei op Loftus Versfeld tot sy reg kom: “Die viering van 25 jaar se vryheid – herwinning en groei vir ’n nuwe Suid-Afrika.”

Meer oor:  Ace Magashule  |  Verkiesing 2019  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.