Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
’Kommentaar: Beeld, Die Burger en Volksblad sê
Die Vrystaatse premier, Ace Magashule. Foto: Mlungisi Louw

Die uitlating dat kiesers nie die ANC moet straf omdat hulle kwaad is vir hul leiers nie, is tekenend van ’n volkome onkunde oor hoe die demokrasie werk. Dié stommiteit kom van Ace Magashule, die ANC se beleërde sekretaris-generaal, tydens stemwerwery in en om Kaapstad.

“Daardie leiers is nie die ANC nie,” het Maga­shule gesê. “Hulle kom en gaan. As ons verkeerde dinge as leiers doen, moenie die ANC straf nie.”

Magashule beledig die intelligensie van kiesers met sy ondemokratiese standpunt dat ’n party nie by die stembus verantwoordelik gehou moet word vir die knoeiery van sy verkose leiers of openbare amptenare nie. Ons gaan immers juis elke vyf jaar stem sodat die vertroue wat partye se leiers verdien, bepaal kan word.

Agter Magashule se uitlating sit natuurlik ook die aanname dat die ANC op die een of ander wyse verhewe behoort te wees bó die wil van die mense.

Soos die ou Nasionale Party van die jare vyftig tot sewentig beskou die ANC homself nie as ’n normale politieke party nie. Dr. Hendrik Verwoerd het in die jare sestig verklaar: “Die Nasionale Party is of was nog nooit ’n gewone party nie. Hy is die Afrikanervolk in beweging.”

Dit is tipies van ’n party wat homself as ’n soort messias, ’n bevrydingsbeweging, sien.

Dit is tipies van ’n party wat homself as ’n soort messias, ’n bevrydingsbeweging, sien. So ’n party meen hy het die reg om permanent – of dan nou “tot die wederkoms” – te regeer.

Benewens die demokratiese dwaalleer wat Magashule so kwistig verkondig, openbaar sy uitlatings ’n ander kenmerk van die ANC wat in geen geringe mate tot sy morele kreeftegang bygedra het. Ter sprake is die party se kultuur van nie-verantwoordbaarheid.

Die party verkies lankal om anderpad te kyk as sy leiers droogmaak en daar kan nouliks ’n duideliker voorbeeld wees as die ANC se nasionale kandidatelys wat besaai lê met die mee­lopers van staatskaping, die leuenaars en die knoeiers uit die Zupta-era in uiters verkiesbare posisies.

Staatskaping kan Suid-Afrika se mense dalk ontsê van dienslewering. Dit kan ons mense ontsê van doeltreffende besteding van hul belastinggeld. Dit kan ons selfs van standhoudende kragvoorsiening ontsê. Ons land se kiesers kan egter nie beroof word van die reg om hul demokratiese wil te laat geld nie, maak nie saak wat Magashule sê nie.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Verkiesing 2019  |  Anc  |  Hoofartikel  |  Demokrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.