Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld, Die Burger en Volksblad sê
Pres. Donald Trump Foto: Reuters

Die verslag van die spesiale Amerikaanse ondersoeker Robert Mueller na beweerde samespanning tussen die Trump-verkiesingspan en Rusland om die 2016-verkiesing te swaai bring die Demokratiese Party voor ’n dilemma te staan.

Mueller het sy opdrag só vertolk dat hy slegs die feite ondersoek en geen bevindings oor skuld of onskuld gemaak het nie. Só ’n bevinding het hy aan die kongres oorgelaat.

Wat beteken dat die Demokrate nou voor ’n belangrike besluit te staan kom: Moet Donald Trump amptelik in ’n staat van beskuldiging gestel word of nie?

Die verslag vlek ’n hele klomp onetiese en oneerlike optredes van Trump en sy medewerkers oop. Hulle het dalk nie aktief met die Russe saamgespan nie, maar ten minste was Trump se seun en skoonseun bereid om dit te doen. Trump het sy ondergeskiktes herhaaldelik opdrag gegee om te lieg, hy het herhaalde pogings aangewend om die ondersoek te saboteer en regsverydeling te pleeg, ensovoorts.

Die Demokrate moet dus besluit: Wil hulle goed voel, of wil hulle Trump laat val?

Ingevolge die Amerikaanse grondwet kan ’n president aangekla word as hy skuldig is aan “hoë misdade en oortredings”. Maar uiteindelik, al het so ’n proses ook die skýn van ’n regsaak, is dit ’n politieke kwessie.

Die Demokrate moet dus besluit: Wil hulle goed voel, of wil hulle Trump laat val?

Die kans dat Trump ’n beskuldiging in die senaat sal oorleef, is uitstekend. As die Demokrate dus bloot selfvoldaan wil voel, moet hulle voortgaan. Dan moet hulle wel aanvaar dat hulle die Republikeine aktiveer om aanstaande jaar in groot getalle by die stembus op te daag en Trump te herkies.

Uit ’n politieke oogpunt beskou, is dit veel verstandiger om die praatjies oor ’n beskuldiging te los. Daar is meer as voldoende materiaal oor leuens en bedrog in die Mueller-verslag wat in die verkiesingsveldtog teen Trump gebruik kan word.

Die vorige FBI-hoof James Comey (wat ook weens sy ondersoek na Trump in die pad gesteek is), het al meermale daarop gewys dat ’n amptelike beskuldiging Amerika uitmekaar kan skeur. Dis veel beter dat Trump by die stembus verslaan word.

Dis wyse woorde.

Meer oor:  Donald Trump  |  Vsa  |  Rusland  |  Amerikaanse Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.