Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld, Die Burger en Volksblad sê
Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer. Foto: Argief

’n Oudvoorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie sê dit is “vanselfsprekend” dat die nuwe parlement moet oorweeg om ’n kommissie aan te stel om te kyk of adv. Busisiwe Mkhwebane vir die pos van openbare beskermer (OB) geskik is.

Ongelukkig gaan “oorweeg” nie deug nie. Die ondersoek móét geskied – én dadelik – voordat Mkhwebane die statuur van die OB-pos verder aftakel. Só ’n kommissie kan ná die jongste hofbevinding teen Mkhwebane oor die Estina-suiwelprojek nie anders as om oor haar ampsbekleding te herbesin nie.

Dit laat nie reg geskied aan regter Ronel Tolmay se mening dat die OB “een van die waardevolste grondwetlike geskenke aan ons nasie in die stryd teen korrupsie, onwettige verryking, vooroordeel en onbetaamlike optrede in staatsake en ter bevordering van goeie staatsbestuur” is nie.

As daar ná Mkhwebane se bestrede Absa-, Reserwebank- en Helen Zille-uitspraak twyfel was, bring dié regterlike uitspraak ná ’n aansoek van die DA en die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) gewisse uitsluitsel dat sy die gemeenskap versaak. Klaaglik verg dit hofuitsprake om klinkklare gebreke bloot te lê.

Die Estina-suiwelprojek by Vrede is deur bedrieërs in die Vrystaatse provinsiale regering met Gupta-familielede bekook vir die afsyfering van staatsgeld.

Die gewraakte Estina-suiwelprojek by Vrede is deur bedrieërs in die Vrystaatse provinsiale regering met Gupta-familielede bekook vir die afsyfering van staatsgeld (waarvan R346 miljoen al heen is).

Mkhwebane se verslag het teruggedeins van ’n ondersoek na politieke konkelary vir gewin. Die betrokkenheid van die Guptas, Ace Magashule en Mosebenzi Zwane by die projek, wat in die premierskantoor beslag gekry het, is nie bekyk nie. Geen grondslag is gelê nie vir latere strafregtelike ondersoek (wat misluk het).

In die hofaansoek is aangevoer Mkhwebane het die bevindings en remediërende optrede in die voorlopige verslag van adv. Thuli Madonsela verontagsaam. Soos Zwane die blaam wil skuif na amptenare, skuil Mkhwebane daaragter dat die Madonsela-verslag te kort geskiet het. As dienende OB was dit háár plig om te verseker die finale verslag is reg. As sy haar wel na die konstitusionele hof wend, pak sy hopelik die regstryd op eie koste aan.

Pres. Cyril Ramaphosa maak gewag van die stryd teen korrupsie. Dit kan net deurgevoer word as ook in die OB-pos ’n ampsdraer is wat Suid-Afrikaners waarlik “beskerm” en dien.

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  Parlement  |  Ob  |  Nuwe Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.