Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld, Die Burger en Volksblad sê
Ace Magashule
Ace Magashule

Die hernude aanslag op die Reserwebank die afgelope week – onder die voorwendsel van kommer oor die ekonomie, werkloosheid en ongelykheid – moet nie geringgeskat word nie.

Dit is baie meer as ’n debat oor die bewoording van die sentrale bank se mandaat, die nut van inflasiebeheer, die potensiaal van kwantitatiewe verruiming of oor monetêre beleid in die algemeen.

Ten diepste is dit net nog ’n manifestasie van die aanslag op die private sektor, onder die vaandel van “witmonopoliekapitaal”, selfs al is dié oorlogskreet nie die afgelope week geuiter nie. Dit gaan daaroor dat die faksie van Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, beheer wil oorneem van die vloei van kapitaal – met voorstelle dat strenger valutabeheer heringestel word. Dit gaan daaroor dat dié ANC-faksie ’n instelling vir die beskerming van kapitaal wil inspan as ’n instrument van begunstiging in ’n ontwikkelingstaat waarin die regering die bron van werk, geld en voordeel moet wees.

Daar hang boonop nog ’n vraagteken oor pres. Cyril Ramaphosa se rol as partyleier.

Dit gaan glad nie oor die gewaande invloed van die beperkte, magtelose private aandeelhouers nie, maar oor die kaping van ’n instelling wat binne die party ’n maklik identifiseerbare simbool van geldmag is.

Dit gaan oor ’n ANC-faksie wat die Reserwebank geïdentifiseer het as waarskynlik die laaste moontlike sondebok vir ’n ekonomiese katastrofe wat veroorsaak is deur misplaaste beleid, onbevoegdheid en deurdringende korrupsie. Solank die ANC-regering dié sondebok slaan, beskou hy homself as ontoerekenbaar vir die verarming van miljoene Suid-Afrikaners onder sy beheer.

Om daarop te wys dat Magashule net ná sy uitlatings oor die Reserwebank klaarblyklik in die bek geruk is deur onder andere Tito Mboweni, minister van finansies, en dr. Enoch Godongwana, die party se eie woordvoerder oor ekonomie, is om naïef te wees oor die aanhang wat die idee van “ ’n tweede fase van oorgang” steeds in die ANC geniet.

Daar hang boonop nog ’n vraagteken oor pres. Cyril Ramaphosa se rol as partyleier. Hy is ooglopend minder negatief teenoor die private sektor as die party as geheel, maar sal hy bereid wees om spreekwoordelik voor die stoomroller te gaan staan? Sy stilte oor die Reserwebank is in dié sta­dium nog oorverdowend . . .

Pres. Cyril Ramaphosa het toe wél ná die skryf hiervan gereageer oor die Reserwebank-situasie.

Lees dit hier: Reserwebank se beleid het nié verander, sê Cyril

Meer oor:  Ace Magashule  |  Private Sektor  |  Hoofartikel  |  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.