Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld, Die Burger en Volksblad sê
CAPE TOWN, SOUTH AFRICA FEBRUARY 20: (SOUTH AFRIC
Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Gallo Images/Brenton Geach

Die stokkie wat voor die munisipale soustrein gesteek is, is ’n positiewe stap wat ook dringend en omvattend na ander regeringsvlakke uitgebrei moet word.

Tito Mboweni, minister van finansies, het pas strenger nuwe regulasies vir kostebesparing, wat op 1 Julie van krag word, aangekondig. Dit hou onder meer verband met die gebruik van ampsmotors, kredietkaarte, reis en verblyf, borgskappe, funksies en spyseniering, asook konsultante. In ag genome die beroerde toestand van baie munisipaliteite oor die land heen, is dit verbluffend hoeveel geld op dié luukses vermors word.

Ratings Afrika, wat jaarliks die bestuur van munisipaliteite beoordeel, het vroeër vanjaar bevind dat ’n algehele ineenstorting van munisipale dienste moontlik is – “met katastrofiese gevolge vir inwoners en ondernemers, wat op sy beurt politieke onrus kan aanwakker”.

77% van die munisipaliteite in die peiling is in ’n begrotingstekort vasgevang en die algehele verliese beloop R13,3 miljard.

Luidens die verslag is die meeste munisipaliteite in Suid-Afrika in ’n finansiële krisis, met min of geen maatreëls om doeltreffende beheer oor begrotings uit te oefen. 77% van die munisipaliteite in die peiling is in ’n begrotingstekort vasgevang en die algehele verliese beloop R13,3 miljard.

Lees dít boonop teen die agtergrond van verlede jaar se verslag van die ouditeur-generaal (OG) waarluidens onregmatige uitgawes met 75% toegeneem het vergeleke met die vorige jaar – dít op die hoogtepunt van Jacob Zuma se bewind. Slegs 49 van die land se 250 munisipaliteite het ’n skoon oudit ontvang.

In ag genome die erns van dié krisis, is daar geen ruimte vir onnodige luukses nie, maar strenger regulasies moet dan ook met beter finansiële beheerstelsels aangevul word. ’n Regulasie beteken niks as jy dit nie kan toepas en afdwing nie. Wat dinge ook vererger, is gebrekkige vaardighede, gebrekkige verantwoordbaarheid en die feit dat plaaslike regering veral in die ANC as die intreevlak vir selfverryking – en toegang tot allerhande soustrein-luukses ten koste van die publiek se belange – beskou word.

Intussen voel gewone mense die druk van ’n swak ekonomie en opstande vlam toenemend op in die droë gras van ontneming en swak dienslewering.

Juis teen die agtergrond van Mboweni se verklaarde voorneme in vanjaar se begroting om onnodige uitgawes in te perk, is strenger regulasies dan nóú ook op provinsiale en nasionale vlak nodig.

Pres. Cyril Ramaphosa kan gerus die pas aangee deur die hersiening van die ministeriële handboek (wat veronderstel is om die uitgawe op luukses strenger in te perk, maar waarmee daar nou al jare gesloer word) dringend af te handel. Maak ook die wysigings openbaar sodat ministers behoorlik verantwoording kan doen.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Finansies  |  Besteding  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.