Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld, Die Burger en Volksblad sê
Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Argief

Strenger regulasies oor regeringsuitgawes aan luukses in die hersiene ministeriële handboek kon nie op ’n meer geleë tyd gekom het nie.

Nadat finansminister Tito Mboweni reeds ook ’n stokkie voor die munisipale soustrein gesteek het, het Beeld gevra dat besparingsmaatreëls ook dringend en omvattend na ander regeringsvlakke uitgebrei moet word, onder meer deur die sloerende hersiening van die ministeriële handboek af te handel. Hieraan is nou gehoor gegee.

Eerstens moet dit gesê word dat dit jammer is dat ’n ministeriële handboek hoegenaamd nodig is om luukses in te perk. Die ministe­riële handboek weet immers níks van gewone mense se daaglikse swaarkry nie. Dit besorg jou ook nie ’n gewete nie.

Aan die ander kant behoort die president en sy ministers wel van dié swaarkry te weet. Húlle behoort self ’n morele oordeel oor die buitensporige uitgawes te kan vel. Verantwoordelike ministers sou dus self toegesien het dat buitensporige uit­gawes nie in hul naam aangegaan word nie.

Eerstens moet dit gesê word dat dit jammer is dat ’n ministeriële handboek hoegenaamd nodig is om luukses in te perk.

Dit het egter nooit gebeur nie. Veral deur die re­gering van Jacob Zuma is uitgawes tot nuwe hoogtes gevoer, terwyl besparing op luukses soos oor­sese reise, verblyf, duur hotelle en die aankoop van weelderige ampsmotors net by praat gebly het.

Toe Pravin Gordhan nog minister van finansies was, het hy die sweep al geklap, maar die Zuptas het min gehoor gegee en die voortgesette spandabelheid met belastinggeld het ’n enorme en deurlopende frustrasie gebly.

Dít ondanks gewone mense wat toenemend die druk van moeilike ekonomiese omstandighede gevoel het. Gesinne moes die rieme al hoe dunner sny, ondernemings is getref deur herstrukturering om te probeer bespaar en die swaarkry van dié wat geen begroting meer het om te sny nie, het net erger geword.

Maar in die Uniegebou is telkens net skouer­ophalend agter die onbehoorlik ruim voorsienings in die ministeriële handboek geskuil, insluitend om die geldmorsery op Nkandla te verdedig.

Teen dié agtergrond verdien pres. Cyril Rama­phosa lof dat die bepalings ná ’n gesloer van meer as sewe jaar uiteindelik hersien en op die oog af beduidend ingekort is. Dit help om uitvoering te gee aan die besparings wat Mboweni in sy begrotingsrede beloof het, asook dié in Ramaphosa se staatsrede.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Ministers  |  Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.