Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
EFF-skuif skep dalk historiese moment vir die ANC en DA
Kommentaar: Beeld, Die Burger en Volksblad sê

Met die sterkste aanduiding tot nog toe dat die EFF finale stappe doen om sy samewerkingskoalisies met die DA in Tshwane en Johannesburg (soos vroeër in Nelson Mandelabaai) tot ’n val te bring, kom die land se toekomspolitiek sterk in die soeklig.

Dié skuif van die EFF sal vir niemand eintlik as ’n verrassing kom nie, want die EFF se opportunistiese radikalisme was nog altyd baie sigbaar.

EFF
EFF

Die koalisies is in die Jacob Zuma-era gesmee, toe die ANC se skouspelagtige verlies aan volstrekte meerderhede in drie groot metropole inderdaad ’n politieke mylpaal was.

Selfs uiteenlopende partye soos die DA en die EFF was doelbewus blind vir hul groot verskille omdat die nasionale aanslag teen die Zuma-era dit gemaklik oorbrug het. En laat albei se ondersteuners gerus onthou: Dit was wat hulle toe ook wou gehad het. Intussen het die Zuma-gom verdwyn.

Dit laat die metro’s met ’n groot dilemma. Die EFF verklaar dat hy nie noodwendig met die ander grote, die ANC, gaan saamspan nie. Effektief is daar dus nou ’n minderheidsregering wat van die genade van óf die EFF óf die ANC afhanklik is om enigiets vorentoe te vat. Daar kan ook pogings wees om DA-burgemeesters te ontsetel.

Dit bring van die politieke leiers ook voor ’n keuse – landsbelang of eiebelang.

Van die groot politieke partye verteenwoordig tans ’n kunsmatige sameflansing van verskeie faksies wat duidelik nie meer uit “innerlike oortuiging” bymekaar hoort nie. Dit is moontlik tyd dat die DA sy eie bestaansdilemma oplos en met die ANC begin onderhandel.

Wat nou na die onmoontlike en ongewenste lyk, kan die begin wees van ’n nuwe middelgrond, bestaande uit die kern van vandag se DA en die Cyril Ramaphosa-konstitusionaliste in die ANC.

Hoort die Ace Magashule-staatskapers en die EFF nie eerder bymekaar nie?

Dit is wat hulle moontlik reeds in die mou voer nadat Magashule beheer oor die ANC verkry het. Dit lyk dalk nie te onwaarskynlik as ’n SAKP-lid soos Jeremy Cronin begin vra dat die ANC en DA praat nie.

Voordat Ramaphosa, Mmusi Maimane en die redelikes in hul onderskeie partye te verswak is, moet hulle dalk nou ’n historiese skuif oorweeg.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Eff  |  Samewerkingskoalisies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.