Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld, Die Burger en Volksblad sê
Wolke pak saam bo die SAUK-gebou in Auckland Park, Johannesburg. Foto: Argief

Die regering het reg om stram te wees met nog geld vir die SAUK. Die uitsaaikorporasie was die afgelope jare een van Suid-Afrika se toonvensters van verkwisting, wanbestuur, selfverryking en korrupsie.

Daar word nou groot gewag daarvan gemaak omdat die regering nie net bloot nog geld in nóg ’n bodemlose put wil afgooi nie. Maar duidelik is die omdraaistrategie wat die korporasie aanbied onoortuigende leesstof. ’n Hooggeplaaste in die tesourie het die media ook meegedeel dat in van die SAUK se eerste versoeke om geld – reeds verlede jaar – daar gruwelike spel- en taalfoute was. Dit was net een aspek van die versoek wat nie aan die nodige vereistes voldoen het nie.

In ’n ontwikkelende land soos Suid-Afrika kan ’n goeie saak uitgemaak word vir die noodsaak van ’n openbare uitsaaier. Baie van die inligting op radiostasies is byvoorbeeld van opvoedkundige aard en van groot waarde vir diegene in die verste uithoeke van die platteland wat andersins nie toegang daartoe het nie. Dit is ook hul enigste nuusbron.

Om te oorleef en vir sukkelende belastingbetalers die moeite werd te bly, is meer as ’n belofte van ’n omkeerstrategie egter nodig.

Om te oorleef en vir sukkelende belastingbetalers die moeite werd te bly, is meer as ’n belofte van ’n omkeerstrategie egter nodig. Die SAUK sal indringend moet kyk na ’n heelwat verskraalde diens en waar nodig harde besluite oor inkorting moet neem.

En die beginpunt is nie noodwendig talentvolle uitsaaiers, joernaliste en programvervaardigers nie. Daar moet eerder begin word by ’n onnodige groot, duur en onkundige bestuurspan en gange vol burokrate. Asook by die ou, vervalle en uitgediende infrastruktuur. ’n Skoonmaakproses moet heel bo begin deur kundige, moderne bestuurskundigheid in te kry as deel van ’n ingrypend verskraalde leierskorps.

Heelwat ondersteunende en administratiewe funksies, selfs menslike hulpbronne en aspekte van finansies, kan uitgekontrakteer word. Die korporasie kort ook moderne, veilige en meer bekostigbare geboue.

Eers wanneer dit gedoen is, kan op ’n versigtige en kundige manier gekyk word na verdere konsolidasie van uitsaaidienste. Indien daarvoor ’n sinvolle plan saamgestel is, sal die nodige private finansiering ook geredeliker beskikbaar wees.

Meer oor:  Sauk  |  Hoofartikel  |  Regering  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.