Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld, Die Burger en Volksblad sê
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Peter Abrahams

Die heraanstelling van Lesetja Kganyago as die hoof van die Reserwebank (SARB) moet op twee maniere beoordeel word.

Eerstens is daar die kwessie oor wat dit vir die SARB beteken, en tweedens is daar die politieke implikasies van pres. Cyril Ramaphosa se skuif teen die populiste wat nou breedweg groepeer agter Ace Magashule, die ANC-hoofsekretaris en gewillige veghoender van die Zuma-faksie.

Wat eersgenoemde betref, het Kganyago homself bewys as ’n belangrike anker vir ekonomiese beleidsekerheid by ’n instelling wat internasionaal met arendsoë deur beleggers dopgehou word.

Kganyago is kennelik nie bereid om kompromieë aan te gaan wanneer dit kom by die SARB se funksie en mandaat nie.

Uit ’n politieke oogpunt sal die aanslag op die Ramaphosa-kamp nou verder verskerp.

Hy was byvoorbeeld instrumenteel in die hofstryd waartydens die dwalende openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, pak gekry oor haar verwerplike bevinding in die Bankorp/Absa-kwessie. Sy het gesê dat die SARB se mandaat gewysig moet word, maar die hooggeregshof het gesê dis bog.

Toe Magashule en die populiste wéér probeer om die Reserwebank te kaap, het Kganyago behoorlik sy rug styf gemaak.

Magashule het verklaar die ANC het besluit dat die mandaat verruim moet word en “kwantiteitsverslapping” (sic) oorweeg. Kganyago se boodskap was egter baie duidelik: Hy sal nie beleidsekerheid op die populistiese altaar van politieke dwase laat offer nie. G’n wonder dus dat die mark en sy heraanstelling verwelkom het.

Uit ’n politieke oogpunt sal die aanslag op die Ramaphosa-kamp nou verder verskerp en hy sal bereid moet wees om toenemend die grofgeskut nader te trek.

Ten diepste gaan die aanslag op die private sektor, onder die vaandel van “witmonopoliekapitaal”, verder verskerp word.

Dit word gedryf deur ’n ANC-faksie wat die Reserwebank geïdentifiseer het as waarskynlik die laaste moontlike sondebok vir ’n ekonomiese katastrofe wat veroorsaak is deur misplaaste beleid, onbevoegdheid en deurdringende korrupsie.

Die populiste gaan dié sondebok aanhou slaan en Ramaphosa sal hulle die stryd baie sigbaarder in die politieke arena moet aansê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.