Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld, Die Burger en Volksblad sê
Pres. Donald Trump van Amerika. Foto: Argief

Dis nodig om verder as die oppervlak te kyk as ’n mens die betekenis van die herrie rakende sir Kim Darroch, Britse ambassadeur in Washing­ton, se vernietigende oordeel oor pres. Donald Trump wil verstaan.

Darroch het in geheime verslae skerp oor Trump se liggeraaktheid, sy onbekwaamheid en sy re­gering se genadelose onderlinge binnegevegte geoordeel. Nadat dit uitgelek het, het Trump Darroch se negatiewe ontleding van sy persoonlikheid bevestig deur hom op Twitter “ ’n baie dom vent” en Theresa May, Britse premier, “ ’n dwaas” te noem.

Darroch het intussen bedank. In Brittanje het dit tot ’n rusie gelei omdat Boris Johnson, wat May aanstaande week as premier gaan opvolg, geweier het om Darroch te verdedig. Van sy eie kollegas in die parlementêre Tory-koukus het gepraat van “skandalige lafhartigheid”.

Ambassadeurs se taak is om eerlik aan hul re­gerings verslag te doen. Afgesien van die vraag of ’n mens met Darroch se oordeel oor die Trump­regering saamstem, het hy eenvoudig sy werk so goed moontlik gedoen.

Die hele episode het ewenwel soos niks anders nie die verandering in die magsewewig tussen Amerika en Brittanje geïllustreer.

Die hele episode het ewenwel soos niks anders nie die verandering in die magsewewig tussen Amerika en Brittanje geïllustreer.

Winston Churchill het in 1946 van ’n “spesiale verhouding” gepraat, iets wat latere Britse premiers soos Harold Macmillan, Margaret Thatcher en May soveel moontlik probeer uitbuit het om Brittanje se invloed op besluite in Washington te vergroot.

Maar al in 1956, toe pres. Dwight Eisenhower die Brits-Franse inval in Egipte kragdadig gefnuik het, het geblyk dat dié “spesiale verhouding” heeltemal in Amerika se guns skeefgetrek was.

Nou het Trump die Britte opnuut, sy dit op sy normale bombastiese manier, gewys wie die baas in die “spesiale verhouding” is.

Selfs May se pogings om heuning om Trump se mond te smeer het nie gehelp nie, en Johnson het die akkuraatheid van sy kritici se aanklag – dat hy “Trump se poedel” is – bevestig.

Darroch se skerp negatiewe ontleding van die Trump-regering, blyk dit, word algemeen deur buitelandse diplomate in Washington gedeel.

Maar uiteindelik is dit die man met die sweep – Trump – wat bepaal wat gebeur.

Meer oor:  Donald Trump  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.