Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld, Die Burger en Volksblad sê
President Cyril Ramaphosa in Parliament ahead of t
President Cyril Ramaphosa. (Gallo Images/Sowetan/Esa Alexander)

Die jongste werkloosheidsyfers wat Statistieke Suid-Afrika verlede week bekend gemaak het, is nóg slegte nuus vir pres. Cyril Rama­phosa, wie se magsbasis in sy eie party steeds onder druk verkeer.

Werkloosheid in die tweede kwartaal van die jaar het met 1,4 persentasiepunte tot 29% opgeskiet.

Dis die hoogste werkloosheidskoers sedert die kwartaallikse indiensnemingspeiling in 2008 in sy huidige formaat begin is, en die hoogste koers sedert 2003 volgens die vorige formaat van die statistieke. Die uitgebreide werkloosheidskoers is ook op na 38,5%.

Dit volg nadat Ramaphosa, sedert hy president geword het, ekonomiese groei en werkskepping as sy hoofprioriteite geïdentifiseer het.

’n Presidensiële werkberaad was ook een van die eerste stappe wat Ramaphosa aangekondig het, maar sedert dié beraad in Oktober verlede jaar gehou is, het hopeloos te min nog gebeur om ekonomiese groei – waarsonder beduidende werkskepping onmoontlik is – te laat vlamvat.

Ons is in ’n diep krisis en dit help nie om net in raads­kamers te praat nie.
Thulas Nxesi, minister van arbeid.

Só byvoorbeeld is Ramaphosa gekritiseer oor die feit dat die beloofde presidensiële werkkomitee wat vordering met indiensnemingsprojekte sou monitor, stééds nie op die been gebring is nie.

Ramaphosa het self ook in ’n twiet laat blyk dat vinniger gevorder moet word met die projekte wat by die werkberaad geïdentifiseer is.

Intussen het Thulas Nxesi, minister van arbeid, ook die sweep geklap en gesê regeringsdepartemente sal verantwoordbaar gehou word: “Daar sal géén verskonings wees nie, want hef aan lê nog voor – ons is in ’n diep krisis en dit help nie om net in raads­kamers te praat nie.”

Beteken dit ook dat Nxesi uiteindelik die moed van sy oortuiging aan die dag gaan lê om sy stiksienige arbeidswetgewing te verander? Ramaphosa het immers reeds in sy staatsrede ná die verkiesing gesê “moeilike besluite” sal geneem moet word, maar tot dusver het daar min van gekom.

Na buite word die indruk geskep dat Rama­phosa só oorhoops is met die Zuma-faksie en aanslae uit die kantoor van die openbare beskermer dat hy al hoe verder agter raak met sy verklaarde doelwitte.

Ramaphosa sal dié remskoene dringend moet afskud, want die krisis in die ekonomie vereis nou sy en die regering se onverdeelde aandag.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Presidentskap  |  Hoofartikel  |  Werkloosheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.