SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld, Die Burger en Volksblad sê

Pravin Gordhan se pleidooi dat Suid-Afrikaners SAL-kaartjies moet koop omdat dit “ons kollektiewe verantwoordelikheid” is, moet verwerp word. Sy krokodiltraan-beroep kom daarop neer dat reisigers hul swaar verdiende geld in ’n bodemlose put gooi sonder dat daar enige plan op die tafel is.

Pleks daarvan om ’n blanko tjek by vuisvoos verbruikers te bedel, behoort hy eens en vir altyd in nader besonderhede uit te stippel presies wat die plan is. Sy verklaring Sondag dat “drastiese herstrukturering” nou die aangewese uitweg is, is net so vaag soos al die leë beloftes van die afgelope twee jaar. En waar het die halsstarrige weiering­ om skoon te maak, drastiese besnoeiings te doen, bevoegde bestuurslui en private vennote in te kry en waar nodig selfs te privatiseer, die lugdiens gebring? In onomkeerbare bankrotskap.

As Gordhan en sy ANC-kollegas ’n voortgesette aptyt het om die gevangenes van sosialistiese ideologie te bly – op die belastingbetaler se rekening – moet hulle die verbruiker nie ook nog daarby insleep nie.

Reisigers sal vir seker in elk geval voortgaan om hul kaartjies op die mededingende mark te koop volgens pryswaarde en betroubaarheid van die diens.

Reisigers sal vir seker in elk geval voortgaan om hul kaartjies op die mededingende mark te koop volgens pryswaarde en betroubaarheid van die diens. En sal nie verkwalik kan word as hulle vir eers van die SAL wil wegbly nie. Vooraanstaande reisversekeraars en reisagentskappe het dit immers al begin doen.

Nadat alles opgeweeg is, lyk dit tog asof sakeredding die aangewese uitweg is. Sodoende kan die nodige kundigheid ingespan word om skoon te maak, afdelings te sluit wat gesluit moet word en betroubare vennote te kry vir afdelings van die lugdiens wat moontlik nog volhoubaar bedryf kan word.

’n Drastiese personeelvermindering – heelwat meer as die 900 waarvan nou gepraat word – is ook dringend nodig. Staatskapers, batestropers, dié wat gereeld van die werk afwesig is en onvanpas gekwalifiseerdes behoort nie ’n dag langer op die personeelstaat te wees nie.

Met die skryf van dié hoofartikel is daar nog gewag op nader besonderhede van die “ingrypende herstrukturering” wat glo beplan word. Indien sodanige plan steeds tekort skiet, is die enigste alternatief vir sakeredding wat oorbly: Sluit die plek en kry klaar.

Meer oor:  Pravin Gordhan  |  Sa  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.