Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld en Die Burger sê
iStock

Die tragedie wat vandeesweek op die grens van Israel en die Gasa-strook afgespeel het, laat vrede tussen die Israeli’s en die Palestyne weer verder buite bereik as voorheen.

Met die doodskiet van meer as 50 betogers het die konfrontasie tussen die strydende partye ’n nuwe vlak bereik wat die situasie nóg moeiliker maak om te ontlont.

Die bloedbad het ook op die herdenking van die stigting van die staat Israel in 1948 gebeur.

Dié dag is vir die Joodse Israeli’s ’n dag van vreugde, want toe is ’n eeue-oue versugting verwesenlik: Eindelik het hulle weer ’n eie staat gehad. Maar vir die Palestyne, die mense wat toe al eeue lank in die gebied gewoon het, was dit ’n nagmerrie eerder as ’n droom.

Dit was die nakba, die Arabiese woord vir katastrofe, toe hulle – aangehelp deur Joodse geweld – op ’n taamlike groot skaal gevlug het.

Sout is ook in dié wonde gevryf met die VSA se opening van sy ambassade in Jerusalem, waarmee die heilige stad as hoofstad erken is.

Dié gebeure beklemtoon weer eens die ontsettende tragedie en oënskynlike onoplosbaarheid van die Joods-Palestynse probleem: Twee volke wat albei met reg op dieselfde grondgebied aanspraak maak.

Die bereidheid tot ’n kompromis wat tot ’n dekade of twee gelede ’n wankelrige bestaan gevoer het, is op sterwe na dood.

Die bereidheid tot ’n kompromis wat tot ’n dekade of twee gelede ’n wankelrige bestaan gevoer het, is op sterwe na dood.

Die Palestyne wil Israel van die kaart vee, en talle Israeli’s gun die Palestyne geen eie staat nie.

En dus ruk die betogers van Gasa na die grens op om Israel binne te dring en hul historiese tuistes weer op te eis in die volle wete dat die veel sterker Israelse weermag hulle geen millimeter ruimte sal gun nie.

Hul sterkste wapen is die beeld van heldhaftige verset, van ’n Dawid wat ’n Goliat uitdaag, en hoop dat die bloed van die oorledenes die saad van uiteindelike oorwinning sal bied.

Die Israeli’s, wie se identiteit in die smeltkroes van die Nazi-volksmoord en permanente Arabiese bedreiging gesmee is, slaan terug op die enigste manier wat hulle ken – met maksimum geweld.

Dis ’n Griekse tragedie wat hom hier met enorme lyding en lewensverlies afspeel, en ’n vreedsame oplossing blý die wêreld ontwyk.

Meer oor:  Skietvoorval  |  Betogers  |  Palestyne  |  Vrede  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.