Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Volksblad en Die Burger sê
Jacob Zuma, oudpresident van Suid-Afrika en die ANC

Sonder om die bevindinge van die Nugent-kommissie vooruit te loop, moet die getuienis wat reeds gelewer is die waarskuwingsligte in helderrooi laat flikker wat betref die rowwe rit wat vir die land voorlê.

Die prentjie wat geskets word, is een waar die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se skuldboek dramaties gegroei het – van R85 miljard in 2015 tot R135 miljard in 2017 – terwyl belastingnakomingsvlakke dramaties gekrimp het.

Dít, tesame met die kultuur van intimidasie waaroor voorheen getuig is en aanduidings dat syfers oor nakomingsvlakke boonop kunsmatig gemanipuleer is, laat dan die vraag ontstaan of daar nog enigsins betroubare syfers en statistiese modelle beskikbaar is op sterkte waarvan ’n realistiese nasionale begrotingsproses kan plaasvind.

Die soort skade wat aangerig is, gaan weliswaar nie binne maande herstel kan word nie, maar die regte mense moet dringend weer in sleutelposte aangestel word

In vele opsigte was die Februarie-begroting alreeds ’n krisisbegroting wat die gevolge van die staats­kaping ongedaan moet help maak. Maar die feit dat die begroting ter tafel gelê is, beteken nog nie dat die geld al daar is nie.

Dit is nou die taak van die SAID om die geld te gaan insamel, maar dít is helaas ook een van die instellings waar ernstige skade in die Zuma-era van staatskaping aangerig is.

Nadat dié instelling oor meer as ’n dekade as een van postapartheid-Suid-Afrika se grootste sukses­verhale opgebou is, het Jacob Zuma met apparatsjiks soos Tom Moyane die SAID ’n slagveld gemaak waarop hy sy magspeletjies probeer besleg het.

Amptenare wat puik werk onder Pravin Gordhan gedoen het, was in die visier in ’n grootskaalse suiwering, kennelik om die SAID ’n politieke werktuig van Zuma te maak.

Die soort skade wat aangerig is, gaan weliswaar nie binne maande herstel kan word nie, maar die regte mense moet dringend weer in sleutelposte aangestel word. Daar kan bepaald nie gewag word tot November wanneer die kommissie na verwagting sy finale verslag lewer nie.

Die SAID het reeds die tweede jaar agtereenvolgens sy insamelingsteiken klaaglik gemis. Te midde van sterk aanduidings dat die fiskale skuld­krisis erg onderskat en die SAID se insamelingsvermoë dienooreenkomstig oorskat is, is dit ’n ope vraag waar die geld vir pres. Cyril Ramaphosa se “nuwe daeraad” vandaan gaan kom.

Meer oor:  Ekonomie  |  Finansies  |  Nugent-Kommissie  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.