Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld en Die Burger sê

Die verrassende ingreep deur die departement van energie in die vasstelling van die brandstofpryse vir September gaan helaas maar skrale troos vir vuisvoos verbruikers bring.

Dié ongewone stap volg nadat pres. Cyril Ramaphosa sy ministers in die ekonomiese groep opdrag gegee het om maatreëls te ondersoek om druk op verbruikers te verlig.

Ofskoon daar ’n onderverhaling (dus verwagte styging) van tot 32c per liter op brandstofpryse was, het die Sentrale Energiefonds aangekondig dat diesel, paraffien en gas nie duurder word nie en petrol met slegs 5c per liter.

In wese kom dit maar op ’n subsidie van die brandstofprys neer. Die groot gevaar is egter dat kunsmatige beheer oor die brandstofprys baie vinnig kan ontaard in ’n bose kringloop waar dié beheer net nie meer volhoubaar is nie.

As ’n vername inflasiedrywer het die brandstofprys uiteraard vinnig ’n rimpeleffek wat betref die styging in die koste van ander verbruikersgoedere.

Hierdie soort “krisisbestuur” het helaas kenmerkend geword van die ANC-regering, wat eenvoudig nie hond haaraf maak met bestendige en stabiele politieke en ekonomiese landsbestuur nie.

As ’n vername inflasiedrywer het die brandstofprys uiteraard vinnig ’n rimpeleffek wat betref die styging in die koste van ander verbruikersgoedere.

Nietemin word die brandstofprys in hoofsaak gedryf deur internasionale faktore soos die prys van ruolie en die wisselkoers, waaroor die regering nie grootskaalse regstreekse beheer het nie.

Hierbenewens is enige “besparing” wat aan die verbruiker deurgegee word bloot teoreties.

En gegewe die krisis in belastingverhaling deur die erg geknoude Suid-Afrikaanse Inkomstediens is dit tans ook nie ’n realistiese opsie om groot verligting te bring deur brandstofheffings te verslap nie.

Ramaphosa en span behoort dus eerder die hefbome waar hy wel oor positiewe beheer beskik, te gebruik om te sorg dat die grondliggende elemente van die Suid-Afrikaanse ekonomie kerngesond is. Dán kan die ekonomie groei en werk geskep word.

Veral gegewe die vlakke van internasionale belegging wat nodig is om die ekonomie weer aan die gang te kry, is die stuit van enige onverskillige praatjies oor onteiening sonder vergoeding ’n baie goeie plek om hiermee te begin,

Mag die slegte nuus gister dat Suid-Afrika ook in ’n tegniese resessie verkeer die regering se fokus aansienlik verskerp.

Meer oor:  Ekonomie  |  Inflasie  |  Brandstofpryse  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.