Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Denel se betaling van miljoene is DA-oorwinning
Kommentaar: Beeld en Die Burger sê

'n Goeie oorwinning oor wanbestuur, die magte van staatskaping, Denel en die ANC is wat die DA en Herman Mashaba, sy Johannesburgse burgemeester, behaal het met die terugbetaling van R209 miljoen deur die wapenvervaardiger aan die metroraad.

Die onversekerde lening aan Denel moes nooit deur die destydse ANC-beheerde metroraad toegestaan gewees het nie.

One of Denel's aeroplanes.
Denel

Mashaba se volgehoue druk te midde van Denel se uitstel om die lening terug te betaal, het vrugte afgewerp. Hy het onder meer gereedgemaak om die hof te vra om Denel te likwideer sou daar langer gesloer word.

Uiteraard wou Denel en die regering ten alle koste vermy dat die heksebrousel van sy sogenaamde “sakereddingtransaksie” in die ope kollig van ’n hofsaak beland.

Boonop is die hele onbekookte leningstransaksie oortrek van die Guptas se vingerafdrukke.

Mashaba het ook nou onderneem om spoedig in 2019 met adv. Shamila Batohi, nuwe nasionale direkteur van openbare vervolging, te vergader. Dit gaan oor die nasionale vervolgingsgesag se traagheid om die lang lys korrupsiesake in die metro hof toe te neem. Dit behels bedrog van miljoene rande in verskeie departemente wat as oorblyfsels van die ANC-regering begin uitpeul het.

Die burgemeester se volgehoue druk om die diewe van belastingbetalers se swaar verdiende geld aan die pen te laat ry, is te verwelkom.

Op Mashaba se klagstaat is ook Parks Tau, sy ANC-voorganger wat hy onder meer beskuldig van bedrog, korrupsie, geldwassery en rampokkery.

Die sweer van toesmeerdery oor selfverryking en staatskaping moet op alle vlakke oopgesteek word. En nog belangriker is dat standhoudende strukture van integriteit in die plek daarvan in werking gestel moet word.

Die Johannesburg-metro is maar net een van ’n verskeidenheid van instellings wat onder die ANC en die Guptas se dagligstropery deurgeloop het. Hopelik word daar toenemend momentum opgebou om dit oral tot ’n einde te bring en die betrokke misdadigers te vervolg.

In dié verband wag daar pakke opgehoopte saakleggers vol spinnerakke op Batohi wanneer sy haar nuwe kantoor betrek.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Denel  |  Herman Mashaba  |  Staatskaping  |  Oorwinning  |  Lening  |  Wanbestuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.