Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld en Die Burger sê
Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking. Foto: Morapedi Mashashe / Daily Sun

Dis hoog tyd dat die Suid-Afrikaanse regering die probleem van xenofobie in dié land erken en dit die aandag gee wat dit verdien.

Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, en twee van haar kabinetskollegas het Vrydag in Pretoria ’n tweede vergadering met die diplomatieke korps uit Afrika gehad oor die onlangse voorvalle van xenofobie.

“Ons as regering het die verantwoordelikheid om seker te maak almal in die land is veilig,” het Sisulu aan die ambassadeurs, hoë kommissarisse en senior diplomate op die vergadering gesê.

Ook pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand op ’n ANC-verkiesingsbyeenkoms gesê xenofobie is nie aanvaarbaar nie.

Dié standpunte verteenwoordig ’n belowende skuif weg van die voortdurende staat van ontkenning waarin die Zuma-regering hom oor dié saak bevind het.

Toe ’n vlaag xenofobiese geweld in 2015 in Soweto uitgebreek is, is dit uit ANC-geledere as “gewone misdaad” afgemaak. Lindiwe Zulu, indertyd die minister van kleinsake-ontwikkeling, het dinge selfs ’n stappie verder gevoer met die verbysterende redenasie dat “buitelanders” hul “sake-geheime” met plaaslike gemeenskappe moet deel om te voorkom dat hulle aangeval word.

Toe ’n vlaag xenofobiese geweld in 2015 in Soweto uitgebreek is, is dit uit ANC-geledere as “gewone misdaad” afgemaak.

Die kilheid van dié reaksie is veral ontstellend as jy in ag neem hoe lank xenofobiese geweld al in die Suid-Afrikaanse samelewing broei. Meer as ’n dekade gelede het die Afrika-Unie in ’n belangrike portuur-oorsigverslag oor Suid-Afrika reeds pertinent gewaarsku dat xenofobie in dié land dringende aandag verg.

Die regering het aanvanklik probeer om die publikasie van die verslag te stuit, maar kort daarna, in 2008, was Suid-Afrika wêreldnuus met ’n vlaag xenofobiese geweld waarin 10 000 immigrante ontwortel is en in kampe oor die land heen gehuisves moes word.

Indien die regering indertyd behoorlike aandag aan die saak gegee het, kon Suid-Afrika al veel verder op die weg gewees het om xenofobiese geweld hok te slaan.

Ramaphosa en Sisulu se bereidwilligheid om die probleem by die naam te noem, verteenwoordig hopelik nou ’n keerpunt in die stryd teen dié verwerplike verskynsel.

Meer oor:  Lindiwe Sisulu  |  Hoofartikel  |  Xenofobie  |  Anc  |  Rassehaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.