Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld
Helen Zille Foto: Jaco Marais

Met die uittrede van Helen Zille as Wes-Kaapse premier is dit straks die laaste hoofstuk van ’n lang loopbaan in die hoofstroompolitiek wat afgesluit word. Op dié punt verdien sy lof vir haar bydrae tot die bou van ons demokrasie, uit albei opposisie- en regeringsgestoeltes.

Haar verbintenis tot beginselgedrewe nie-rassigheid het reeds ontstaan as anti-apartheidsaktivis en is in die opposisiebanke verder onder die vaandels van die DP en later die DA uitgebou.

Onder haar het die DA sy sterkste prestasie nóg in ’n nasionale verkiesing behaal – ’n vlak wat haar opvolger, Mmusi Maimane, nog moet bereik.

Dit was onder meer danksy haar sukses om, met ’n sterk verbintenis tot gelyke geleenthede vir almal, die party se ondersteunersbasis én leierskapsprofiel te verbreed.

Zille se sterk bydrae vanuit die opposisiebanke was veral belangrik in terme van die beskerming van grondwetlikheid, die oppergesag van die reg en die skeiding van magte. Dié beginsels het binne die oogmerke van die ANC in sy nasionale demokratiese revolusie dikwels onder druk gekom, met Zille as onversetlike bolwerk daarteen.

Vanuit regeringsgestoeltes – eers as provinsiale minister van onderwys, en later as burgemeester en premier – was haar verbintenis tot skoon, deursigtige regering bo verdenking.

Vanuit regeringsgestoeltes – eers as provinsiale minister van onderwys, en later as burgemeester en premier – was haar verbintenis tot skoon, deursigtige regering bo verdenking. Op dié gebied staan die klem op verantwoordbaarheid uit.

Ja, foute het sy wel ook gemaak. In die onlangse verlede was daar ’n reuse-bohaai oor haar ongenuanseerde twiet oor kolonialisme. Dit was ondeurdag en het haar party en Maimane se beeld, veral onder swart kiesers in die noordelike provinsies, ernstig geskaad. Reeds ’n aanduiding dat haar politieke uurglas begin uitloop het.

Zille se grootste nalatenskap lê in haar bedryf van die politiek – as opposisie én as regeerder – op die grondslag dat die grondliggende stryd in Suid-Afrika tussen nie-rassige konstitusionaliste en rasse-na­sionaliste en/of populiste lê.

As Suid-Afrika ’n volhoubare toekoms het, móét dit kom vanuit eersgenoemde groep, waarvan sommige voorstanders in die opposisie sit, en ander steeds binne die ANC. Vir die nie-rassige konstitusionaliste om die oorhand te kry kan nog ’n grondliggende herskikking van die politiek verg. Dis iets waarvoor Zille reeds ’n grondslag gehelp lê het.

Meer oor:  Helen Zille  |  Wes-Kaapse Premier  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.