Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld en Volksblad sê

Soos dit ’n politikus betaam, wys pres. Cyril Ramaphosa nie die druk waaronder hy verkeer nie, maar die Shakespeare-aanhaling “Uneasy lies the head that wears the crown” (uit King Henry IV) geld ook vir hom.

Diegene wat kitsloplossings vir landskwessies verwag, moet nie onder ’n illusie verkeer oor teenstand uit sy eie party met die stryd om die hart en siel van die ANC wat nog onbesleg is nie. Sy magsvoorsprong (slegs 179 stemme by Nasrec) is lank nie vasgeanker nie.

Oorlogsverklarings begelei die faksiestryd.

By die Jacob Zuma-hofverskyning in Durban het Supra Mahumapelo, onthefde ANC-premier in Noordwes, steeds na Zuma verwys as “ons president” en na Nkosazana Dlamini-Zuma as “ons leierskeuse”. Hy het ook uitgevaar teen die “magsdronk Nasrec-triomfantlikes” wat moet ophou optree asof net hulle “die organisasie” (ANC) is. By die mislukte KwaZulu-Natalse ANC-konferensie is Gwede Mantashe, ANC-voorsitter en ondersteuner van Ramaphosa, openlik uitgejou en ’n spreekbeurt geweier. In die Vrystaat het die ANC-burgemeester van Dihlabeng Ramaphosa op sosiale media vir ’n “uitverkoper” uitgekryt.

Uneasy lies the head that wears the crown.

Agteraf stook Zuma die hutspot.

Minstens die Vrystaat en Noordwes se ANC toon ook ’n weersin in Ramaphosa. Hul provinsiale en munisipale magsbasisse (en houvas op begrotings, tenders en kontrakte) word bedreig.

Te midde van die aanslag verg ’n wiggeltoer tussen staat en party Ramaphosa se aandag. As president is hy herstelwerker (van staatskaping se skade), bemarker (by die G7-beraad), versoener (by die Afrikanerbond se eeufees) en vele meer. Van hom word ook verwag om die ekonomie reg te ruk.

As partyleier moet hy die ANC verenig hou ondanks die uitkalwery van eie mag.

Ná 100 dae aan die bewind, is sy wittebrood verby en verhewig die aanslag. Die ANC-prestasie in die 2019-verkiesing gaan beslissend wees vir die konsolidasie van sy magsbasis. Met die balanse-ring van landsbelang en partybelang as ’n newefaktor.

Ramaphosa het Suid-Afrika van die afgrond van algehele staatskaping weggelei. En probeer ’n dyk daarteen bou. As ’n leier onder beleg verdien hy begrip van almal wat hulle by die stryd om ’n onkreukbare staat skaar.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Jacob Zuma  |  Hoofartikel  |  Verkies  |  Politiek  |  Sameswering  |  Regering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.