Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld en Volksblad sê
Meokgo Matuba, sektretaris-generaal van die ANC-vroueliga. Foto: Thapelo Maphakela

Terwyl die ontheffing van Pule Mabe en Zizi Kodwa van hul plig as ANC-woordvoerders ná onderskeie klagte van ’n seksuele aard teen hulle te verwelkom is, spreek dit van die ANC se gewone dubbele standaarde. Sy beginselloosheid is op die ergste juis wanneer konsekwentheid nodig is.

Mabe, woordvoerder, en Kodwa, waarnemende woordvoerder, is Maandag deur die ANC uit hul poste geskuif. Mabe se persoonlike assistent beskul-dig hom van seksuele teistering, maar hy is ná ’n in-terne ondersoek eers onskuldig bevind. Kodwa word van verkragting aangekla. Mabe pak die skuld op “faksionalisme” en Kodwa pleit ’n “smeerveldtog”.

Deel van die problematiek in die ANC se “optrede” nou is dat hulle steeds knus sit in Luthuli-huis, waar hulle net ander werk verrig. Dit laat die spesmaas dat hul ontheffing bloot daarop gerig is om hulle vir skadebeheer uit die openbare oog te hou.

Toegegee, as korrupsie ter sprake is, sou dit die ANC-banke laat leegloop.

Die gewone kleitrappery geld oor die toepassing van die beginsel van “onskuldig totdat andersins bewys is”. As die ANC vergrype ernstig wil takel, moet dié beginsel deurlopend toegepas word ongeag die aard van aantygings. Soos dit gebruiklik in ’n geloofwaardige staatsbestel behoort te wees, moet alle verdagtes hangende ondersoek geskors word – wat ook al die wese van hul beweerde oortredings.

Toegegee, as korrupsie ter sprake is, sou dit die ANC-banke laat leegloop.

Selektiewe toepassing van die beginsel deug nie.

Meokgo Matuba, sekretaris-generaal van die ANC-vroueliga, se gerieflike skuiwergat nou is dat die vroueliga die beginsel steun van “onskuldig totdat skuldig bewys is”, maar net so standvastig in sy steun aan die slagoffers van seksuele teistering en verkragting is. Die verweer druip van lagwekkende skynheiligheid.

Ongelukkig kan dit net die een of die ander wees.

Die einste ANC-vroueliga het destyds sy volle steun aan Jacob Zuma toegesê by die hof waar hy van verkragting aangekla is, terwyl sy lede die slagoffer, Khwezi (haar regte naam het later bekend geword), in die openbaar verguis het.

As Mabe en Kodwa skuld dra, volg hulle hopelik in die spore van Marius Fransman, wat weens seksuele teistering vervolg word. Optrede behoort in alle gevalle sonder aansiens des persoons te geskied – ook (of veral) in die ANC.

Meer oor:  Verkragting  |  Seksuele Misbruik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.