Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld sê
Tito Mboweni

Kort ná die nuus dat die Universiteit van Pretoria 2019 gaan gebruik as die jaar waarin Afrikaans finaal as onderrigtaal uitgefaseer word, volg ’n troosprys. Dit bly saam met Engels en Pedi een van die seremoniële tale wat by amptelike geleenthede gebruik gaan word. Dít aldus prof. Tawana Kupe, nuwe rektor.

Tito Mboweni, minister van finansies, was reg met sy twiet: Tuks gaan inderdaad oor etlike dekades spyt wees hieroor. Duidelik snap Mboweni die vernietigende gevolge daarvan dat Afrikaans, as een van die land se voorste akademiese tale, ’n bate is wat die soort talent ontsluit wat nodig is om toekomstige ontwikkelingsprobleme die hoof te bied.

Oor Kupe se troosprysaanbod aan Afrikaans en sy sprekers: Nee dankie. Afrikaanssprekendes word erg daardeur beledig. As dit die motief was, is die doelwit bereik. Maar ter wille van ouers as kontantgewasse word Afrikaanse onderwysonderrig en sommige teologiese rigtings wel aan die gang gehou? Waarom dan nie ook steeds klasse in ekonomie, die regte en chemie nie?

Maar donateurs, ouers en studente sal Tuks nie meer as ’n byna outomatiese eerste keuse vir hul beleggings kan beskou nie

En hoewel dit alles onder die gewaande vaandel van groter toeganklikheid is, is Afrikaanssprekende toppresteerders op skool steeds goed genoeg om groot afslag op hul eerstejaar-studiegeld aangebied te word. Ongeag hul welvaartsprofiel. Weet die transformasiedrukgroepe daarvan?

Dit gebeur omdat die universiteit besef dat sy strewe om ’n voorste internasionale instelling te bly of word, net met toptalent moontlik is.

Maar donateurs, ouers en studente sal Tuks nie meer as ’n byna outomatiese eerste keuse vir hul beleggings kan beskou nie. As daar nie meer ’n Afrikaanse akademiese ruimte is nie, of minstens ’n gedeeltelik inklusiewe kultuurbelewenis nie, is die plek ’n groot deel van sy unieke verkoopselement vir Afrikaanse talent kwyt. Hulle kan nou net sowel die akademiese aanbod van ander hoog aangeskrewe Engelse universiteite in Suid-Afrika of elders op meriete oorweeg.

Die Universiteit Stellenbosch (nog in ’n saak oor taal in die konstitusionele hof gewikkel), die Noordwes-Universiteit en selfs in enkele gevalle die Universiteit van Johannesburg bied nog klasse in Afrikaans aan waar daar genoeg studente is.

Dit is ’n oorweging om hulle (of Akademia vir diegene wat so voel) eerder te ondersteun.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Up  |  Afrikaans  |  Onderrigtaal  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.