Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld sê

Die morele bankrotskap van Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, en Ace Maga­shule, sekretaris-generaal van die ANC, is ’n bron van ernstige kommer. Dié twee dowwe kolle in die ANC rysmier enige versoening.

Albei se jongste uitlatings, onderskeidelik oor Afrikaans en wit mense, is ook direk teenstrydig met pres. Cyril Ramaphosa se benadering oor dieselfde onderwerpe voor ’n grootliks Afrikaanse gehoor in Pretoria kort voor die verkiesing. Albei het terloops ook die versug­ting dat Julius Malema na die ANC moet terugkeer.

Lesufi se “daar is nie meer Afrikaanse universiteite in die land nie. As jy op Afrikaanse onderrig aandring, kelder jy die kinders”, dui op ’n verstommende onkunde vir iemand wat homself as ’n onderwys-LUR voordoen.

Dit bevestig ook finaal die vermoede dat hy ’n erg ongesonde vooroordeel teen Afrikaanse mense en hul skole het.

Dit bevestig ook finaal die vermoede dat hy ’n erg ongesonde vooroordeel teen Afrikaanse mense en hul skole het. Sy posisie is versterk deur die ondervoorsitter van die ANC in Gauteng te word.

Daarom sal enige versugting dat hy nou uit die onderwysrol geskuif word waarskynlik op dowe ore val. Maar dan moet Ramaphosa dit as geldig aanvaar dat die opregtheid van sy eie uitreiking bevraagteken kan word as Lesufi toegelaat word om homself só te gedra.

Wat Magashule – die “gangster” in Gangster State – betref, is die vraag hoe ernstig hy nog opgeneem moet word. Die aanhoudende uitvaar teen wit mense dui op die gebrek aan resultate oor wat die ANC en hyself kon lewer en moet verdoesel. Hy word duidelik ook al hoe benouder oor die lang arm van die gereg.

Baie Afrikaanssprekendes en wit mense doen baie meer as dié twee konflikstokers vir ’n beter Suid-Afrikaanse samelewing. Daar moet sonder vrees vir politieke korrektheid sterk kapsie gemaak word teen gedrag wat enige groepe as slaansakke uitsonder. Hulle kan gaan vlieg.

Meer oor:  Panyaza Lesufi  |  Hoofartikel  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.