Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld sê
Oudpres. Jacob Zuma.

Dit is goeie nuus dat oudpres. Jacob Zuma, die opper-Zupta, uiteindelik sy verskyningsdatums voor die Zondo-kommissie het. Dit op sigself is belangrike vordering in pres. Cyril Ramaphosa, sy opvolger, se belofte dat staatskapers vervolg sal word in die proses om korrupsie uit te roei.

Hopelik kom die Zuma-kamp nie weer met die een of ander vertragingstaktiek vorendag nie. Sy aandrang om vooraf die vrae te kry, spreek daarvan. Gelukkig het die kommissie sulke voorkeurbehandeling verwerp. Die land is gereed om sy antwoorde te hoor. Dit spreek vanself dat hy lank en deeglik ondervra sal word oor miljarde rande wat uit die staatskoffers gesteel is.

Die punt is al deur verskeie ontleders gemaak dat byna almal hul beurt voor die Zondo-kommissie kry behalwe diegene wat van oortredings beskuldig word. Tot nou toe is die goue draad van alle onthullings – hetsy in die media, in boeke, hofsake of voor kommissies soos die Zondo-kommissie – dat Zuma en sy kohorte se vingerafdrukke op die meeste van die misdaadtonele sigbaar is.

Sy verskyning moet ter wille van die land ’n belangrike keerpunt word in die vervolging van die staatskapers en die stryd teen korrupsie.

Sy onoortuigende rol as die slagoffer van onkunde wie se naam sonder sy medewete misbruik is, mag nie die blywende heersende indruk ná sy verskyning wees nie. Dan sal die hele oefening ’n mislukking wees.

Zuma is ’n genadelose verraaier van sy land en mense se welstand. Blatante selfverryking, soos die bou van die Nkandla-woning, uit staatsgeld kan nie ongestraf bly nie.

Dit laat ’n bitter smaak in die mond dat die presidensie sy regskoste vir die Zondo-verskyning gaan dra. Gaan dit nou weer ’n hofaansoek deur ’n politieke party of instansie verg om dit ongedaan te kry? Wat dan in elk geval weer kostebevele teen die belastingbetaler kan meebring? Maar dit is ’n kostebevel wat die belastingbetaler waarskynlik graag sal dra eerder as om ’n sent verder aan Zuma se koste te betaal.

Die verskyning beloof om dramatiese dae in die Suid-Afrikaanse huishouding te wees. En met reg.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.