Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Dalk te veel van die DRK se nuwe president verwag
Kommentaar: Die Burger, Beeld en Volksblad sê

Die rusie oor die uitslag van die presidentsverkiesing in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) wys weer eens dat groot dele van Afrika maar nie daarin slaag om aan die vereistes vir ’n suksesvolle staat te voldoen nie.

Dié land se verkiesingskommissie het verrassenderwys ’n opposisieleier, Felix Tshisekedi, as die wenner aangewys. Dit ondanks die feit dat die sittende president, Joseph Kabila, liefs ’n ander kandidaat – hetsy Martin Fayulu of Emmanuel Shadary – as sy opvolger gesien het.

Tshisekedi se voorsprong van 7 miljoen stemme teenoor Fayulu se 6,4 miljoen en Shadary se 4,4 miljoen was egter te groot. Die verkiesingskommissie kon nie anders as om Tshisekedi tot oorwinnaar uit te roep nie.

In Afrika is verkiesingsuitslae egter selde eenvoudig. Dus het Fayulu onmiddellik luidkeels geprotesteer dat die uitslag bekook is, en mense opgeroep om “vir die waarheid te veg”.

Eintlik is dit ’n wonder dat die verkiesing hoegenaamd plaasgevind het. Dis herhaaldelik – onwettig – uitgestel deurdat Kabila eenvoudig geweier het om, soos die land se grondwet vereis, afstand van die mag te doen.

Die DRK is byna ’n prototipe van die soort staat waarheen ook Suid-Afrika onder Jacob Zuma en die Gupta-familie langsamerhand onderweg was: ’n staat gelei deur ’n groep skurke wat die staat nie as instrument vir die ontwikkeling van die land se mense beskou nie, maar as ’n melkkoei om vir eie gewin droog te melk.

In teorie is dit nie moeilik om die vereistes vir ’n suksesvolle staat te identifiseer nie: die aanstelling van eerlike, bekwame en ervare mense in belangrike bestuursposte; behoorlike demokratiese toesig oor die doen en late van die regering; ’n onafhanklike regbank; en voldoende beskerming vir die vryheid van spraak, met inbegrip van waardering vir die onmisbare rol van die onafhanklike nuusmedia.

In die DRK is niks hiervan vanselfsprekend nie. Vir te lank is die land deur die Belgiese koloniale owerheid en die regerings van die onafhanklike Kongo uitgemergel totdat slegs ’n leë dop oorgebly het. Vir die arme Tshisekedi wag ’n bykans onmoontlike taak. Hy moet ’n wonder verrig, wat nie gaan gebeur nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.