SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Kommentaar
Kommentaar: Die Burger en Volksblad sê

In die week van die ANC se 107de verjaardag en aan die vooraand van 2019 se verkiesing roer dié party die historiese en retoriese snare aan.

Aan diepsnydende selfondersoek oor die party se verval en dat hy die oorsaak van baie van Suid-Afrika se probleme is, ontbreek dit kennelik.

In die ANC se 8 Januarie-verklaring wat Cyril Ramaphosa, partyleier, vandeesweek op die party se verjaardag voorgehou het, is die “hernuwing” van party én land benadruk.

Hy het hoog opgegee oor die skoonmaakproses om ontslae te raak van onetiese kaders wat die ANC oneer aandoen en sy Thuma Mina-veldtog wat “die party na die mense toe neem”.

Met staatskaper nommer een, Jacob Zuma, in sy midde – en verdagte kaders as benoemdes op die party se kieslyste – is die blywende aard van ’n nuwe etiese koers in die party nog twyfelagtig.

Die sukses wat weer in Mei by die stembus verwag word, bly die golf wat die party aan bewind gaan hou.

Dat Ramaphosa die Thuma Mina-veldtog eers as staatshoof ingestel het, illustreer ’n ou ANC-kwaal: Die onvermoë om tussen staat (en sy geldkas) en party te onderskei.

Oor elite-bevoorregting, vervreemding van die swart middelklas (as deel van sy kiesbasis) en kwynende jeugleierskap wat vir die party op die duur niks goeds voorspel nie, word niks gerep nie.

Die sukses wat weer in Mei by die stembus verwag word, bly die golf wat die party aan bewind gaan hou – en onbepaald die land se toekoms rig.

Dit ondanks akute ANC-gebreke en nie danksy knap staatsbestuur nie.

Korrupsie; haglike nasionale, provinsiale en munisipale diens; bankrot staatsinstansies; bedenklike werketiek; en wanbegrip oor die aard van “integriteit” (waarop die party roem), is die praktiese getuigskrif.

In die Oos-Kaap het Ramaphosa, Zuma en ander vandeesweek die grafte van die ANC-stigter John Langalibalele Dube en die vorige ANC-leiers Albert Luthuli, Josiah Gumede, Oliver Tambo en Nelson Mandela besoek en ou onregte aangehaal.

Struggle-retoriek sal ook opklink wanneer die ANC sy verkiesingsmanifes môre in die Moses Mabhida-stadion in Durban bekend stel, maar die “manifes van die mense” behoort veral uit te stippel oor hoe hy menselewens wil verander.

Die ware toets, ook vir die volhoubare stand van die beleërde ANC, sal eers ná die verkiesing volg.

Meer oor:  Verkiesing  |  Kiesers  |  Anc  |  Stemme  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.