Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Die Burger en Volksblad sê
’n Groep Suid-Afrikaners woon Saterdag die inhuldiging van pres. Cyril Ramaphosa op Loftus Versfeld in Pretoria by. Foto: Felix Dlangamandla

Die swierige seremoniële vertoon is verby en pres. Cyril Ramaphosa, die nuwe “liefling van Loftus”, kan sy eerste volle termyn as Suid-Afrika se president in erns aanpak.

Op sy skouers rus die taak om die land weg te stuur van die afgrond af en te rig op die suksespad waar dit ná 25 demokratiese jare moes gewees het.

Dit klink na ’n onbillike uitdaging, maar eintlik moet die norm van skoon regering, nierassigheid en goeie dienslewering, wat onder die vorige ANC-bewind skipbreuk gely het, net heringestel word.

In die magsdinamiek van dié party vereis dit wel ’n besonderse individu om die ommekeer te bewerkstellig. Om net beter as oudpres. Jacob Zuma te wees, is nie goed genoeg nie. Die groot toets gaan wees waar Suid-Afrika oor vyf jaar staan, vergeleke met nou.

In sy afgelope jaar as staatshoof en weer in sy aanvaardingstoespraak in die parlement en in sy inhuldigingsrede in Pretoria, het Ramaphosa die hoop gewek dat hy vir Suid-Afrika die vergestalting van die spreuk “Cometh the hour, cometh the man” is. ’n Sprankie hoop van Nelson Mandela se versoeningstyd skemer deur.

Dit is bemoedigend dat Ramaphosa homself as ’n president vir alle Suid-Afrikaners wil beskou – nie net vir die ANC en sy kiesers nie.

Dit is bemoedigend dat Ramaphosa homself as ’n president vir alle Suid-Afrikaners wil beskou – nie net vir die ANC en sy kiesers nie. Ewe verfrissend is sy beskouing van sy mandaat van ’n maatskaplike verdrag met alle Suid-Afrikaners, asook sy voorneme dat hy samewerking en raadpleging met alle politieke partye gaan uitbrei en verdiep.

In die praktyk gaan die keuse tussen die ANC en Suid-Afrika ’n suiwer balanseertoer en taai besluite verg. Hy gaan nie almal tevrede stel nie, allermins in sy party waar die lang messe uit is.

Met die aanstelling van skoon besems in kritieke waghondposte meestal gedaan, is vandeesweek se aanwysing van kabinetsposte ’n wegbereider.

Naas die stryd teen korrupsie, gaan die fynskrif van grondonteiening sonder vergoeding en die manier waarop dit gedoen word, bepalend in sy presidentstermyn wees. Daar is ook die regruk van die staatsdiens, ook op provinsiale en munisipale vlak; herlewing van diensetiek; ommekeer van die kringloop van werkloosheid en armoede, en, en, en . . . Die vrag is te swaar vir een mens.

“Thuma Mina!” het Ramaphosa weer gevra. Hy het nodig dat Suid-Afrika hieraan gehoor gee.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Presidentskap  |  Nuwe President
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.