Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Die Burger en Volksblad sê
Ace Magashule. Foto: Daily Sun

As Jacob Zuma nog staatspresident was, sou hy nie vir ’n beter span voorsitters van parlementêre portefeuljekomitees as toesighoofde oor departementele werksaamhede en wetmakery kon gevra het nie.

Zuma is nie meer die staatshoof nie, maar Suid-Afrika betaal steeds die prys vir die ontplooiing van kaders om alle ANC-faksies tevrede te stel en die skyn van eenheid te bewaar.

Die feit dat Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, die voorsitters op die dag voor die staatsrede aangekondig het, ontbloot die waarheid.

Na berig word, het Magashule met die aankondiging gesê dat “ons” (die ANC) nie ontplooiing faksie-gewys benader nie. “Ons ontplooi op grond van ondervinding en kapasiteit,” het hy aangevoer.

Die versoeking is om te vra: Ondervinding van wat? As bewese ervaring en bevoegdheid as knap, toegewyde en onkreukbare politieke ampsdraers en staatsadministrateurs werklik vereistes is, moes min van die voorsitters die paal gehaal het.

Die lys is deurspek met Zuma-verknegdes (soos Faith Muthambi wat hom slaafs by die hof ondersteun het); Magashule-gedienstiges (soos Mosebenzi Zwane wat as Vrystaatse LUR hom vir die aanvoorwerk van die Gupta-landing op Waterkloof en die Vrede-bedrogspul in ruil vir hoëre louere laat aanwend het), en uitverkopers (soos Tina Joemat-Pettersson, wat as minister van energie die sentrale energiefonds se strategiese oliereserwes verkwansel het).

Om dan nie eers van Bongani Bongo, Sfiso Buthelezi, Cedric Frolick, Joe Maswanganyi en andere nie praat nie.

Hier is wat die meeste ANC-uitverkorenes in dié strategiese poste in gemeen het: lakeiskap; ’n mislukte rekord as minister of in hoë staatsposte elders; hul name wat in die #Guptaleaks of voor die Zondo-kommissie in verband met staatskaping opduik; verdagte handeling in vorige poste, en magsknoeiery.

Eerder as betroubare waghonde aanstel wat oor die werking van die staat en oor wetmakery moet waak, is dit ’n geval van wolf skaapwagter maak.

As dit ’n strategiese plan van pres. Cyril Ramaphosa is om politieke vyande te neutraliseer, is dit naïef. Dit wys wat die ANC werklik van skoon regering dink en hoeveel hy vir die land omgee.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Hoofartikel  |  Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.