Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Die Burger sê
Gugile Nkwinti

Met damvlakke in die Wes-Kaap wat bemoedigend styg, kan mense allermins bekostig om hul besparingsingesteldheid te verslap. Met die reën wat uitsak, is dit nóú juis die tyd om vir die volgende droë periode te bespaar.

Veral as jy in ag neem dat Suid-Afrika een van die 30 droogste lande ter wêreld is, moes dit lankal deel van ons leefwyse gewees het. Klimaatsverandering en bevolkingsgroei beteken boonop dat droogtes in die toekoms meer gereeld, langer en die effek daarvan meer intens sal wees.

Dis ’n landwye verskynsel. Die knellende droogte wat die sentrale binneland in 2016 geteister het, asook die Wes-Kaap en Nelson Mandelabaai wat daarna tot droogterampgebiede verklaar is, moet die belang van twee sake opnuut tuisbring.

Eerstens: Juis omdat reënval toenemend onvoorspelbaar is, is dit elkeen se plig om spaarsaam met water te werk. Nie net wanneer waterbeperkings van krag is nie – dit moet ’n leefwyse word.

Tweedens: Aan owerheidskant is deeglike beplanning om dieselfde rede uiters belangrik, soos die gebrek hieraan rondom die Kaapstadse krisis deeglik bewys het. ’n Groot prioriteit in dié beplanning moet die land en plaaslike owerhede se kwynende waterinfrastruktuur wees.

Juis omdat reënval toenemend onvoorspelbaar is, is dit elkeen se plig om spaarsaam met water te werk.

Onderbrekings in die voorsiening van water duik met toenemende reëlmaat op en is ’n aanduiding van die gebrekkige kapasiteit op plaaslike vlak.

Ook op nasionale regeringsvlak heers ’n ernstige gebrek aan deurdagte langtermyn-instandhouding, wat veroorsaak dat enorme hoeveelhede kosbare water verlore gaan. Die Eskom-krisis was juis ’n goeie voorbeeld van waar kenners ook jare voor die krisis gewaarsku het dat voorsieningskapasiteit en infrastruktuur uitgebrei moet word. Met water is ons nou in dieselfde verknorsing.

Gugile Nkwinti, die nuwe minister van water en sanitasie, is op rekord dat hy “ ’n gemors” van sy voorganger, Nomvula Mokonyane, geërf het.

Inderdaad – sy het toegelaat dat waterinfrastruktuur só kon agteruitgaan dat tot sowat 37% van skoon drinkwater deur lekkasies verlore gaan. Maar wat is Nkwinti se planne?

Nogmaals: Die tyd dat ons – landburgers en amptenare – in Suid-Afrika kan optree asof ons in ’n waterryk land leef, is vir altyd verby. Onderskat die erns hiervan op eie risiko.

Meer oor:  Gugile Nkwinti  |  Damvlakke  |  Hoofartikel  |  Droogte  |  Water  |  Waterbeplanning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.