Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Die Burger sê
Mmusi Maimane, DA-leier, stem saam met ander afgvaardigdes vir die herroepingsklousule. Foto: Deaan Vivier

Dit is met bykans magtelose frustrasie dat Suid-Afrikaners moet toekyk hoe politieke manewales in die plaaslike regerings van sleutelmetrogebiede soos Kaapstad, Nelson Mandelabaai, Tshwane, Johannesburg – en as erge wanadministrasie in ag geneem word, ook Mangaung – afspeel.

Die regerings hier beheer begrotings van miljarde rande en is verantwoordelik vir dienslewering aan en veral huisvesting vir miljoene mense wat steeds in groeiende getalle na stede stroom.

Elke vergadering wat hulle hou, behoort sterk gefokus te wees op die optimale benutting van bronne om die beste moontlike dienste aan veral armes te lewer. Pleks daarvan word kosbare tyd en energie verspil op opportunistiese politieke speletjies, mosies van wantroue, in- en uitlopery by raadsale, ontwrigting van vergaderings en die ontginning van persoonlike voordele vir individue.

Die ander gevaar is dat ’n Donald Trump-soort model kan ontwikkel.

Nie die ANC, DA, EFF of UDM het enigiets om op trots te wees ná maande van ongedurigheid in die land se belangrikste metroregerings nie.

Moontlik het dit tyd geword dat kiesers hul stembusstrategie vir munisipale verkiesings herbesoek en meer onafhanklike kundiges instem wat politiek onverbonde is. Die ontnugtering wat beroepspolitici tans veroorsaak, lei tot ’n vertrouensbreuk met kiesers en voed onbetrokkenheid. Dit kan oorspoel na swakker deelname by die stembus, ook in die komende nasionale verkiesing.

Die ander gevaar is dat ’n Donald Trump-soort model kan ontwikkel wat ’n veldtog voer teen alle bestaande partye en politici, maar uiteindelik meer dinge ontwrig as regruk.

Die mark is dus gereed vir die politieke leiers wat na vore tree en sigbaar wegstaan van persoonlike soustreine en kan oortuig dat daar ’n onwrikbare fokus op die oplos van regeringsprobleme is.

Die ontseteling van die ANC in drie van die groot metro’s het soos ’n vars politieke bries deur die land gewaai. En het sigbaar bygedra tot die verdere onthulling en uitskakeling van korrupte kontrakte, ’n beter bepaling van begrotingsprioriteite en minstens in sommige opsigte beter regering.

As die grootliks DA-EFF-koalisies nou in duie stort weens persoonlikheidsbotsings en politiekery voor die nasionale verkiesing, gaan dit ’n terugslag vir die twee partye se geloofwaardigheid wees. 

Meer oor:  Partye  |  Koalisies  |  Da  |  Verkiesings  |  Eff  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.