Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
’n Reuse-taak lê voor vir die nuwe vervolgingsbaas
Kommentaar: Die Burger sê

Dinsdag het nog ’n bekwame Suid-Afrikaner pres. Cyril Ramaphosa se uitdaging aan sy landgenote in sy eerste staatsrede aanvaar: “Thuma Mina”, oftewel: “Stuur my.”

Adv. Shamila Batohi, nuwe nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) en die eerste vrou in dié uitdagende pos, het met haar intrapslag bemoedigende standpunte ingeneem.

Oor die pad van wanbestuur en korrupsie wat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) tot by hierdie kruispad gestap het, is al rieme geskryf. Volstaan om te sê die vrou met dekades se ervaring as aanklaer en as raadgewer van die Internasionale Strafhof het ’n dik streep in die sand getrek toe sy sê dit sal nie verder geduld word nie. Haar eerste taak sal wees om die ingewikkelde web van intriges, leuens en sameswering by die NVG te ontrafel.

Adv. Shamila Batohi Foto: Argief

Voorts gaan sy diegene wat “ons instellings gekorrupteer en die publiek se vertroue en die waardes van die Grondwet verraai het” tot verantwoording roep. Dieselfde geld dié in die korporatiewe sektor wat aan growwe vergrype skuldig is.

Sy lyk vasbeslote om diegene wat Suid-Afrika tot by die randjie van die afgrond van staatskaping en korrupsie gedryf het, voor stok te kry. Batohi moet egter onder geen illusie verkeer oor hoe wyd die netwerk van hoës strek wat Jacob Zuma byna ’n dekade lank gehelp het om aanklagte van korrupsie te ontwyk – óók by die NVG.

Haar omvattende ervaring sal hopelik verhoed dat sy onder druk swig en ondersoeke te gou probeer afhandel, soos wat oënskynlik in die Estina-saak die geval is.

Ramaphosa verdien ook ’n pluimpie vir die aanstellingsproses, wat ’n slag bo verdenking was. ’n Paneel van kundiges buite die ANC het die NDOV-kortlys saamgestel. Ingevolge die Grondwet was hy binne sy regte om ongeag dié proses steeds sy eie kandidaat te kies. Met die Bosasa-wolk wat oor sy kop hang, kon die versoeking groot gewees het om iemand in sy eie binnekring aan te wys.

Die boublokke van ’n stewige fondament vir die Ramaphosa-era val stadig maar seker in plek, en die herbou van die NVG sal ’n kritieke element van dié projek wees.

’n Groot taak lê voor, adv. Batohi. Die Burger wense u sterkte toe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.