Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
’n Probleem soos dié een kan nie toegesmeer word
Kommentaar: Die Burger sê

Daar kan geen twyfel wees nie: Die Rooms­Katolieke Kerk is in die grootste krisis van sy bestaan sedert die Hervorming. Die kinder­molesteringskandaal waarby duisende priesters, biskoppe en kardinale betrek word, tas dié kerk in sy hart – sy geloofwaardigheid – aan.

Sedert die einde van die vorige eeu het die ver­hale onkeerbaar toegeneem: Kinders wat aan die sorg van priesters toevertrou is, is op groot skaal seksueel misbruik. Nog erger, die kerk het dit uit vrees vir sy goeie naam na buite toegesmeer.

Pas is ’n senior kardinaal in ’n saak wat hiermee verband hou in ’n burgerlike hof veroordeel. Kardinaal George Pell (tot onlangs op twee na die mees senior geestelike in die Vatikaan) is in Australië skuldig bevind op twee aanklagte wat verband hou met die seksuele misbruik van kinders.

Vroeër het pous Franciskus kardinaal Theodore McCarrick van Washington van sy priesteramp gestroop ná bewerings oor hoe hy hom aan leerling-priesters opgedwing het, en vandeesweek is die Franse kardinaal Philippe Barbarin skuldig bevind aan die toesmeer van ’n seksuele molestering­skandaal. Die verhale van nonne wat in kloosters verkrag is, neem ook steeds toe.

En steeds het die kerk die skuldiges bloot met ’n vermaning na ’n ander pos verplaas waar hulle eenvoudig hul gedrag voortgesit het.

Daar is veral twee strukturele kwessies, eie aan die Rooms-Katolieke Kerk, wat dergelike wantoestande moontlik gemaak het. Een is die selibaat, wat indruis teen die ingeboude seksuele aard van die mens (die spesie moet immers oorleef). Die ander is die streng hiërargiese – byna militêre – struktuur van die kerk.

Die Protestantse kerke ken nie die selibaat nie. En reeds sedert die Hervorming is die struktuur “platter”, oftewel meer demokraties.

Maar Protestante moet versigtig wees om hovaardig en met leedvermaak na die Katolieke se probleme te kyk. Immers, laat dié een wat sonder sonde is die eerste klip gooi.

Daar is wel iets uit die Katolieke krisis te leer wat oor verskillende instellings heen kan strek (en bepaald nie net tot kerke beperk is nie): Dit deug nooit om ’n probleem te probeer toesmeer of wegswyg nie. Bring dit vroeër eerder as later in die ope.

Meer oor:  Kindermolestering  |  Kerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.