Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Die Burger sê
Foto ter illustrasie Foto: iStock

’n Kille herinnering aan hoe onveilig ons skole geword het, het Saterdag op Netwerk24 verskyn.

Op bl. 4 word berig oor rowers wat by die Sea Point High School in Kaapstad ’n onderwyseres en leerlinge tydens ’n eksamen van 50 selfone beroof het. Op dieselfde blad verskyn ’n berig oor ’n leerling aan Forest High School in Johannesburg wat vermoedelik deur ’n mede-leerling doodgesteek is.

Daarnaas is ’n storie oor ’n onderwyser by Mabusabesala Sekondêre Skool in Mpumalanga wat geskors is nadat hy met ’n pistool in die hand eksamentoesig gehou het.

Duidelik word ons skole nie gespaar in die golf van misdaad en geweld wat oor die land spoel nie.

Intussen het Rapport Sondag berig dat Afrikaanse openbare skole deesdae tot soveel as R48 000 per maand bestee om hul terreine privaat te beveilig.

Luidens ’n verslag van die Skole-ondersteuningsentrum (SOS) het 87% van die 106 skole wat aan die peiling deelgeneem het, al inbrake beleef. By 60% van hulle het mense al onregmatig toegang tot die skool verkry. By 41% van die skole is kinders al met dwelms betrap, en 23% van die skole is al deur betogings ontwrig.

Wanneer ouers soggens hul kinders by skole aflaai, moet hulle dit kan doen in die wete dat hulle kinders veilig sal wees.

Dis skreiende statistieke wat die regering en die onderwysdepartement, wat primêr verantwoordelik moet wees vir die veiligheid in ons skole, tot dringende aksie moet oorhaal.

Wanneer ouers soggens hul kinders by skole aflaai, moet hulle dit kan doen in die wete dat hulle kinders veilig sal wees in ’n omgewing waar die bedreiging van lewensverlies of ernstige beserings nie met die leerproses inmeng nie.

Die verbluffende bedrae geld wat by skole uitgegee word, kom eintlik maar uit die sak van ouers wat dit uiteindelik in die vorm van verhoogde skoolfonds sal betaal.

En dít nadat onderwys reeds jaarliks die grootste deel van die nasionale begrotingskoek kry – weliswaar met skokkende swak resultate.

Dan moet daar ook ’n vinger in die rigting van die onderwysvakbond Sadou gewys word. Dié vakbond help allermins bou aan die boodskap dat die veiligheid van skole heilig behoort te wees. Inteendeel, met elke staking is geweld en intimidasie teen onderwysers én kinders deel van die taktiek.

Dit alles moet nóú stop.

Meer oor:  Onveilige Skole  |  Onderwys  |  Skole  |  Skoleveiligheid  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.