Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Die Burger sê: Is Vrouemaand 'n dekmantel?

Met die viering van Vrouedag moet ons erken dat ons steeds misluk om die skokkende gety van huishoudelike geweld te stuit.

Volgens Statistieke Suid-Afrika se gesondheidspeiling het gemiddeld een uit elke vyf vroue ­ouer as 18 al onder fisieke geweld deurgeloop. In die armste huishoudings styg dié syfer tot een uit elke drie vroue. Vier uit elke tien geskeide vroue was ook slagoffers van huishoudelike geweld. Volgens die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad word ’n vrou elke agt uur deur haar maat vermoor.

Kenners meen dat selfs dié skokkende syfers ’n growwe onderskatting van die werklike situasie is.

Teen dié agtergrond is dit begryplik dat Vrouemaand en die regering se jaarlikse 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders met gemengde gevoelens bejeën word.

Moenie stilbly nie. Nooit nie.

Enersyds sou daar dalk minder bewustheid van dié belangrike saak wees as die veldtogte nie ook deur die regering erken is nie. Andersyds is dit duidelik dat die veldtog hopeloos ontoereikend is.

’n Geldige vraag is of Vrouemaand en die 16 dae nie net dekmantels vir 11 maande of 349 dae van apatie is nie. Te dikwels skep sulke veldtogte die gaping vir politici om handewringende toesprake te lewer terwyl te min aandag aan skewe magsverhoudings tussen mans en vroue gegee word.

Laat ons nie vergeet nie: Ons het byna ’n dekade lank ’n president gehad wat nie gehuiwer het om sy meerderwaardigheid teenoor vroue en ’n diepgewortelde patriargale houding te wys nie, en ’n ANC-vroueliga wat hom desondanks sonder om te blik of te bloos bly ondersteun het.

Dit strek pres. Cyril Ramaphosa tot eer dat hy die krisis van geweld teen vroue wel erken en praktiese stappe begin doen in die stryd daarteen.

Op Vrouedag moet ons onsself daaraan herinner dat dit ’n ingewikkelde probleem is waarvoor die oplossings op verskillende vlakke lê. Ons moet weet dat dade al die mooi woorde en handewringende toesprake sal moet begin ondersteun.

En baie belangrik: Moenie stilbly nie. Nooit nie. As jy die slagoffer of oortreder is van huishoudelike geweld, praat met iemand daaroor. Om ’n probleem te erken en daaroor te praat, is die eerste stap na genesing. LifeLine se gesinsgeweld-hulplynnommer is 0800 150 150.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.