Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Volksblad sê

Kultuur. Ras. Taal. Geslag. Seksualiteit. Gestremdheid. Politiek. Godsdiens.

Dit is in ’n neutedop die vlakke waaroor die afgelope Vrystaat Kunstefees heen gesny het.

Dié 18de kunstefees van Volksblad en die Universiteit van die Vrystaat het die afgelope week duisende mense van oor die land heen, en selfs wêreldwyd, na die Kovsie-kampus en elders in Bloemfontein gelok.

In ’n groter mate as vorige jare is talle werke aangebied wat gehore se emosies en sienswyses uitgedaag en hulle dikwels ontstel het. Dit het gespreek van trauma en naakte woede en het kykers dikwels onkant betrap.

Dit strook met die feestema “Migrasie” en ook met ’n universele skuif in die kunste, nie noodwendig weg van die tradisionele temas nie, maar eerder na die verwoording en vergestalting van probleme in ’n poging om bewustheid te wek.

Enkele gehoorlede het uitgestap, soos dit hul goeie reg is. Van die produksies het weer staande ovasies gekry. Die skeidslyn van ware kuns is fyn en die oorsteek daarvan en die verbreding van grense is eksperimenteel en nie altyd soomloos nie.

Die teenwoordigheid van internasionale kunstenaars en skrywers op die fees en die Pan-Afrika- Kreatiewe Uitruilprogram (Pace) is vanuit die hartland van Suid-Afrika ’n broeikas vir die kunste in die land met tentakels wêreldwyd.

Dit is ’n pluimpie vir die Vrystaat dat groot belangstelling onder buitelandse vervaardigers bestaan om werke soos The Little Prince, Hani, Womb of Fireen DEURnis na die wêreldverhoog te bring.

Die Vrynge-fees het met sy eksponensiële groei en die verrassende belangstelling in die produksies van veral jong kunstenaars getoon dat die toekoms van die kunste rooskleurig is.

Die literêre fees het behoorlik uit sy nate gebars met nie net die getal hoogstaande aanbiedings en voorste skrywers nie, maar ook bywoningsgetalle.

Die aanbieding van so ’n fees kos miljoene rande.

Daarom dankie vir groot borgskappe deur Media24, die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (Nati), ATKV, die Dagbreek Trust, asook internasionale borgskappe vanuit Nederland, Vlaandere, Australië en Kanada.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.