Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Volksblad sê
Ace Magashule
Ace Magashule

Die “advies” van Playfair Morule, Vrystaatse oud-LUR vir finansies, aan sy destydse ANC-premier Ace Magashule “om homself aan die Zondo-kommissie vir staatskaping te gaan verduidelik”, is gaaf, maar stellig nie veel werd nie.

Dit is ’n uitgemaakte saak dat die onus op Magashule berus om wel voor die Zondo-kommissie te gaan getuig én om regstappe in te stel oor die boek Gangster State: Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture. Anders hoekom sameswering skree oor “valse aantygings” van staatskaping en korrupsie?

Net jammer die Zondo-kommissie lyk ál meer na ’n tjor wat petrol kry en kry, maar nie aan die ry kom nie. Verlede week het die kommissie erken hy het meer prokureurs nodig om sy werk te kan doen.

Die vraag sluimer ook hoekom “fluitjieblasers” soos Morule, Beatrice Marshoff, oudpremier, en Thabo Manyoni, Mangaungse oudburgemeester (wat saam met Magashule die Guptas besoek het), nou eers uitpraat en nie al destyds toe hulle deel van die regeringstruktuur was nie.

Die ANC ly aan onwil om die hegemoniese kultuur van magsmisbruik en selfverryking te breek – en Suid-Afrika betaal.

Die ANC ly aan onwil om die hegemoniese kultuur van magsmisbruik en selfverryking te breek – en Suid-Afrika betaal. Uit dié greep kan slegs ontkom word as ampsdraers gedienstige begunstiging vermy en skoon regering met woord én daad uitleef.

Morule se uitvaardery teen “die kaskenades in die regering”, wat nepotisme, bevoorregting en werk vir familielede en vriende insluit, oortuig nie. Hy sien geen botsende belange daarin nie dat eers hy, ondanks politieke bande, en later sy vrou, staatskontrakte vir die bou van HOP-huise van die provinsiale regering bekom het. Sy misnoeë is eerder dat die tenders onder Magashule opgedroog het!

So slinks melk staatskapers die amptelike stelsels vir verkrygingsadministrasie dat hulle dit regkry om die wet te “klop”. Agentskappe vir wetstoepassing is verlam, gekoöpteer of verpolitiseer en kan – of wil – nie die verstrengelde web van vergrype ontrafel nie.

In ’n ongesaboteerde stelsel sou daarna uitgesien kon word dat Magashule (en familielede), Morule, Marshoff, Manyoni, ander Vrystaatse ANC’s en talle amptenare (in die Vrystaatse departemente van behuising en van paaie en vervoer) voor die Zondo-kommissie of in die hof gaan getuig.

Hef aan lê voor. Indien ooit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.