Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Volksblad sê
Die nuwe Noord-Kaapse premier, dr. Zamani Saul, lewer Dinsdagoggend sy inhuldigingstoespraak in Leratopark, Kimberley. Foto: Christiaan Cloete

In die weke ná die verkiesing is daar aan die plaaslike en provinsiale front in die Vrystaat en Noord-Kaap rede tot kommer én rede tot hoop.

In die Noord-Kaap laat premier Zamani Saul met sy benadering hoop opvlam. Die hopelike uitvoering van inhuldigingsbeloftes met die fokus op besparing, goeie regering en dienslewering is ’n vars bries.

Vir Noord-Kapenaars is Saul se beloftes en ingestelde besuinigingsmaatreëls bemoedigend: ’n kleiner uitvoerende raad, geen bloulig-kavalkades vir politici nie, ambulanse pleks van luukse motors vir LUR’e, en die verkoop van die premierswoning en nie-strategiese bates vir onder meer beurse vir arm studente . . .

In die Noord-Kaapse buurprovinsie, die Vrystaat, waar die uitvoerende raad nié verklein is nie, waai die winde van verandering ongelukkig nie.

Terwyl die eerste 23 van 63 beloofde ambulanse in die Noord-Kaap gekoop en Saul sy intrek in die Kimberley-hospitaal geneem het om beter dienslewering te bewerkstellig, is die Vrystaat getref deur ’n hospitaalskandaal en (nog) ’n water- en begrotingskrisis in die wankelende Mangaung-metro. Dít terwyl die plakkate van ’n week-likse koerant uitbasuin dat premier Sisi Ntombela “in beheer is” en Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester, en haar Mangaung-metromunisipaliteit nou Bloemfontein “weer terugvat”.

Vir Noord-Kapenaars is Saul se beloftes en ingestelde besuinigingsmaatreëls bemoedigend.

Was die Vrystaatse owerheid en administrasie in beheer, was die Pelonomi-hospitaal nie ’n onveilige werkplek en is ’n jong dokter nie amper verkrag en nog ’n jong dokter aangeval en beroof nie. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, is reg as hy sê die owerheid moet hom skaam en dat dit nooit moes gebeur het nie.

Terwyl die Mangaung-metro breëbors spog oor die terugwinveldtog van Bloemfontein en die lewering van basiese dienste wat hy in elk geval moet lewer, was woonbuurte in die stad weer vir bykans ’n week sonder water. Eers was dit weens die geldstryd tussen die metro en Bloemwater en daarna weens vrot infrastruktuur en twee gebarste pype. Dit spreek van valse beloftes.

Daarmee saam is inwoners getref deur die nuus dat die metro – wat met sy terugwinveldtog in effek toegee dat hy beheer verloor het – sy tariewe drasties verhoog. Dit wek vrae oor die burgemeesterskantoor se begroting van R267 miljoen wat nou R74 miljoen meer as die begroting van die finansiesdepartement is. Want Mlamleli moet maandeliks onder meer 120 politieke aangesteldes van die ANC (Ace Magashule se seun inkluis) betaal. Mense wat wat doen?

Ntombela, Mlamleli en politici en swak Vrystaatse amptenare moet by Saul en die Noord-Kaap afkyk. Albei provinsies se mense wil besuiniging en goeie dienslewering sien. Hulle is geregtig daarop.

Meer oor:  Zamani Saul  |  Noord-Kaap  |  Mangaung  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.