Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Nou moet die ANC sélf teen Zuma optree

Dit was ’n debat oor ’n mosie van wantroue in die president. Maar desondanks die feit dat 198 LP’s die ANC-bevele gehoorsaam het en téén die mosie van wantroue in Nommer Een gestem het, het nie ’n enkele spreker in Woensdag se debat duidelik ten gunste van die president na vore getree nie.

Jacob Zuma

Daar was weliswaar siedende aanvalle op die opposisie en die idee van ’n mosie van wantroue.

Daar was beskuldigings dat só ’n mosie in wese ondemokraties is en sou neerkom op “regime­verandering”.

Daar is geredeneer dat dit self ’n vorm van staatskaping is – of erger nog, ’n staatsgreep.

Daar was natuurlik ook die gebruiklike beskuldigings dat opposisielede die hedendaagse vergestalting van apartheid is. Hoe voorspelbaar.

Maar wat was daar nie?

Daar was nie ’n enkele redenasie oor wat pres. Jacob Zuma al vir Suid-Afrika gedoen het nie. G’n toespraak oor projekte wat hy begin het waarsonder Suid-Afrika armer sou wees nie. In ’n wantrouedebat was daar nie ’n enkele redenasie oor waarom hy ons vertroue waardig is nie.

Dit spreek op sigself boekdele, maar die ANC behoort te besef dat die wyse waarop sy LP’s die debat Woensdag gevoer het die bal wéér in die regerende party se baan plaas. Want as die party homself dan nou nie sover kon kry om te stem ten gunste van ’n mosie wat die opposisie ter tafel gelê het nie – en homself ook nie sover kon kry om vertroue in Zuma se leierskap uit te spreek nie – is die onus op hom om sélf teen Zuman op te tree.

As dit dan heiligskennis sou wees om te stem vir ’n mosie van die opposisie, herroep dan sélf die president soos wat met Thabo Mbeki gedoen is. Of staan ten minste net opsy dat die reg sy gang teen Zuma kan gaan.

Ironies genoeg is dit juis Zuma se woorde self wat die pad vorentoe aandui.

Dié aanhaling kom uit sy verduideliking in September 2008 van waarom Mbeki as president van die land herroep word: “As regerende party is dit ons plig om die vertroue van die mense in die ANC en die regering in stand te hou. As vlakke van vertroue eers verswak het, het die ANC geen ander keuse as om op te tree nie.”

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Debat  |  Lp’S  |  Mosie Van Wantroue  |  Anc  |  Opposisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.