Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Volksblad:Kommentaar
Optrede móét volg op debat

Dat Baleka Mbete, speaker, toegelaat het dat die parlement gister die eerste keer sedert 1994 ’n debat oor plaasmoorde hou, moet as vordering beskou word. Die land se wetgewende gesag het amptelik kennis geneem van die vlaag aanvalle en moorde waarin plaasmense uitgewis word en wat die landbou-gemeenskap bedreig.

Dr. Pieter Groenewald, VF+-leier, verdien lof daarvoor dat hy daarin geslaag het om Mbete, wat tot onlangs die debat botweg geweier het, anders te oortuig. Die skoksyfers oor plaasmoorde, meen Groenewald luidens Rapport, het die deurslag gegee. Mbete het gehoor die moordkoers op boere is meer as 100 per 100 000 van die bevolking teenoor die nasionale syfer van 33 per 100 000 en ’n wêreldwye gemiddelde van sewe. Nie net wittes is slagoffers nie. Volgens Vrystaat Landbou was daar in 2016 altesaam 14 swart mense onder die slagoffers in 21 plaasmoorde in die provinsie.

Die laaste tyd sterf mense feitlik daagliks in plaasmoorde. Die grusaamheid van aanvalle neem toe – ’n boormasjien en blaasvlam is in verskillende aanvalle gebruik om vroue te martel.

Die debat volg ook op die onlangse DA-voorstel vir openbare verhore oor plaasmoorde. Mbete het hieroor Annette Steyn, DA-woordvoerder oor landbou, gewys op die SA Menseregtekommissie se verhore oor plaasmoorde waarvan die verslag geliasseer is by portefeuljekomitees wat oor moontlike openbare verhore sal besluit.

Gister se debat het net sowat 90 minute geduur, maar party-deelname was van ’n redelike hoë vlak en relevante kwessies, voorstelle en behoeftes is belig. Die wreedheid van aanvalle, polisiëring en misdaad-intelligensie, behandeling van plaaswerkers, veiligheidsplanne, voedselsekerheid en kwesbaarheid van plase het aan die bod gekom.

Mosiuoa Lekota van Cope het misleiding oor grondhervorming en opruiende toesprake deur politieke leiers veroordeel. Steyn het versoek dat plaasmoorde as prioriteitsmisdaad verklaar word. Groenewald het weer uitgewys nie net wittes nie, maar ook swart mense is slagoffers. Voorspelbaar is ras-stereotipering – deur Agang en die EFF – nie uit die gesprek geweer nie.

Sonder verdere daadkragtige optrede is alles pure verniet. Die kans op leiding van die parlement of sy portefeuljekomitees is skraal.

Meer oor:  Parlement  |  Debat  |  Plaasmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.