Op papier behoort die ANC vanjaar in duie te stort.
Die langsame, moeisame maar onverbiddelike geveg teen korrupsie is besig om dié bevrydingsparty uitmekaar te skeur. Die dreigende skorsing van Ace Magashule, wat lyk of dit onafwendbaar geword het, gaan ’n tektoniese verskuiwing vir die ANC wees.
Dis onwaarskynlik dat dit soos oudpres. Jacob Zuma se afdanking in 2005 tot ’n tweestryd gaan lei waarin Magashule terugkeer en dalk selfs die mag in die ANC oorneem soos wat Zuma in Desember 2007 gedoen het.
Nee, sy skorsing gaan ’n presedent skep.
Die volgende traumatiese gebeurtenis wat in 2021 op die ANC wag, is die verslag van die Zondo-kommissie na staatskaping. Dit gaan in wese ’n omvattende, gedetailleerde verslag van ekonomiese hoogverraad wees met plekke, bedrae en met name – veral name. Daar is honderde, dalk duisende Magashule’s in die ANC wat kandidate is vir “opsy staan” of skorsing.
Daar is honderde, dalk duisende Magashules in die ANC wat kandidate is vir opsy staan of skorsing.
Dis nie duidelik hoe die ANC die verslag gaan verwerk nie, maar een ding is seker: Dit gaan die party se steun by die stembus nog verder knou.
Dan is daar die Wet op die Finansiering van Politieke Partye wat in April in werking tree en waaroor Rapport op bl. 5 berig. Ja, daar is steeds skuiwergate, soos skenkings in ander vorms as geld en satelliet-organisasies wat nie as politieke partye geregistreer is nie, maar wat geld invorder en die werk van ’n politieke party doen. Maar die wet gaan merendeels ’n einde maak aan die bykans onbeperkte toegang tot staatsgeld wat die ANC tot dusver danksy die skuiwergate in bestaande wetgewing gehad het en wat provinsiale regerings in staat gestel het om geld na politieke partye oor te dra.
Skenkings van die buiteland het ook vroeër ’n standhoudende rivier geld vir die ANC verseker. Vir die DA was dit ook ’n stewige, inkomstebron, maar vir albei die twee groot partye het die inkomste daaruit al hoe stadiger begin loop.
Die nuwe wet gaan dit verander in niks meer as ’n druppende kraan nie.
Dit alles gebeur voordat die land se kiesers iewers in die tweede helfte van die jaar stembus toe gaan om nuwe stadsraadslede te kies. Dit teen die agtergrond van feitlik elke plaaslike owerheid – buiten dié in die Wes-Kaap – wat wanfunksionerend en doodgewoon bankrot is.
Oor dit alles heen hang die wolk van die Covid-19-pandemie. Ja, ons regering het foute gemaak, maar in geheel gesien het ons die pandemie beter hanteer as talle welvarender en gevorderder lande. Nogtans het ons ekonomie ’n harde knou weg.
Covid-19 het die rug van die opkomende Amerikaanse tiran Donald Trump gebreek.
In die tweede helfte van die jaar gaan ons sien wat die uitwerking van die pandemie op die vooruitsigte van ons lankmoedige, prosesbehepte president is.
Maar die ANC het nie 109 jaar oud geword omdat hy net nog ’n politieke party is nie.
Hy kon hom al voorheen uit ongemaklike posisies loswikkel – soos die arrestasie van sy hele topstruktuur in die 1960’s en drie dekades van ballingskap. En die party se hand word aansienlik gesterk deur die feit dat pres. Cyril Ramaphosa se enigste geloofwaardige opponente – Julius Malema en John Steenhuisen – nie ’n realistiese kans staan om hom te troef nie.
So, ja, die party ís erg verwond. Maar is dit die einde? Waarskynlik nie.